Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
‘Musiek Roulette’ behou virtuele oudisies

Nadat deelnemers aan die SABC2-musiekspeletjiesprogram Musiek Roulette virtuele oudisies vir die nuwe reeks moes aflê, is daar besluit dié formaat is hier om te bly.

Carl Stemmet, kreatiewe regisseur by Stemmburg Televisie, wat die program vervaardig, sê met behulp van oudisies op Zoom is soveel meer mense bereik.

Musiek Roulette
Nádine, aanbieder van die SABC2-musiekspeletjiesprogram ‘Musiek Roulette’. Foto: Stemmburg Televisie

“Weens die inperking kon ons nie, soos in die verlede, groot groepe mense by groot lokale hul oudisies laat aflê nie,” sê Stemmet.

Die sesde reeks word van 1 Maart af verfilm en sal na verwagting op 8 April begin.

Die sangeres Nádine tree weer as die aanbieder op.

“Die inperking het ons eintlik gedwing om ’n ander rigting te vind,” sê Stemmet.

“En toe besluit ons op Zoom, want baie mense is deesdae daarmee vertroud. Meer mense kon deelneem, want hulle doen dit sommer in hul etensuur en mense hoef nie meer ver te reis nie. Daar was selfs mense in die hospitaal wat ná ’n operasie met ons gepraat het.”

Die oudisies kan opgeneem word en die vervaardigers kan weer gaan kyk hoe lyk en klink die mense wat ingeskryf het.

Elke reeks bestaan uit 15 deelnemers en terwyl die sesde reeks se verfilming in Maart begin, word die sewende een in Junie verfilm.

“Dus is 30 nuwe deelnemers met behulp van Zoom gekies. Met die vorige oudisies is liedjies gespeel en ’n paar vrae gevra wat hulle skriftelik moes beantwoord. Nou antwoord hulle die vrae met chat features op Zoom. Dis ’n private chat. Kim Petersen behartig saam met my die oudisies.”

Noot vir noot, ook ’n musiekspeletjiesprogram uit die stal van Stemmburg Televisie, is verfilm net voordat die staat van inperking begin het, maar die vasvraprogram Musiek-fundi’s is midde-in die inperking verfilm.

Die sesde en sewende reekse van die SABC2-musiekspeletjiesprogram ‘Musiek Roulette’ word vanjaar verfilm. Foto: Stemmburg Televisie

Inperkingsmaatreëls word ook op die stel van Musiek Roulette gehandhaaf.

In die aanvanklike formaat het drie sangers ’n keurspel van vier liedjies gesing en deelnemers het verskillende speletjies gespeel wat op hierdie liedjies gegrond is. Dit het bestaan uit sowel vrae as om liedjies verder te sing nadat Nádine dit begin sing het.

Terwyl die vorige formaat uit drie deelnemers in elke episode bestaan het, bevat die nuwe werklikheidsformaat 15 deelnemers, waarvan een aan die einde van elke episode uitgeskakel word. Net een deelnemer bly uiteindelik oor, wat die kans staan om sowat R200 000 te wen.

Die nuwe formaat bevat nog steeds ’n verskeidenheid kunstenaars wat die liedjies sing waaruit die vrae kom.

“Daar is ’n bietjie verander aan die formaat van die program, so ’n paar verrassing wag, maar die werklikheidselement van die vorige reeks is nog daar.”

Stemmburg sal in die toekoms weer ’n paar lokale in groot stede vir oudisies beskikbaar stel, maar die virtuele venster bly oop juis omdat dit soveel meer mense ’n kans gee om deel te neem.

Musiek Roulette se sesde reeks begin op 8 April om 19:00 op SABC2 (DStv-kanaal 192).

Meer oor:  Televisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.