Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Netwerk24-joernalis het leeueaandeel in ‘Devilsdorp’

Drie jaar gelede sou Jana Marx, tans Netwerk24 se diepteverslaggewer, “nooit kon droom” dat sy ’n topverkoperboek sou skryf wat die weg sou baan vir ’n opwindende nuwe waremisdaadreeks nie.

Marx het in Mei 2018 as Netwerk24 se destydse hofverslaggewer die opspraakwekkende Krugersdorp-moordsaak, beter bekend as die sogenaamde “afspraakmoorde”, gedek. Dit wat sy vasgevang het, het sy in die boek Afspraak met moord: In die kake van die Krugersdorp-kultus omskep. Dit het gelei tot die Showmax-waremisdaadreeks Devilsdorp, wat Donderdag uitgereik is.

Talle TV-foendi’s kan nie uitgepraat raak daaroor nie.

“Dit is bepaald een van die mees vernuwende, maar ook briljant gekonstrueerde dokumentêre wat nog in Suid-Afrika gemaak is,” sê die resensent Leon van Nierop in Rapport.

“Realisties, intelligent gemaak, heg en seepglad gekonstrueer en duidelik uiteengesit, verdien dit om ’n klein meesterstuk genoem te word.”

Christiaan Boonzaier stem in sy resensie op Netwerk24 saam.

“Inhoud soos dié is wereldklas en behoort by volgende jaar se Saftas bekroon te word.”

Die reeks fokus in vier uur lange episodes op die 11 moorde wat Krugersdorp van 2012 tot 2016 geruk en skokgolwe deur Suid-Afrika gestuur het. Al 11 moorde is eindelik met Cecilia Steyn, hoof van die kultus Electus per Deus, verbind.

Jana Marx, Netwerk24 se diepteverslaggewer. Foto: Argief

Marx, wat Devilsdorp se hoofverteller is en ook as konsultant op die reeks gewerk het, sê sy was aan die begin van die projek bewus daarvan dat sy ’n “groentjie in hierdie uiters professionele TV-bedryf is” – maar sy het haar senuwees kant toe gevee omdat sy ’n storie gehad het om te vertel.

“Martin Luther King jr. het immers gesê: 'Our lives begin to end the day we become silent about things that matter.' Die Krugersdorp-moordsaak maak vir my báie saak,” sê sy.

“Dit is vir my belangrik dat die slagoffers nie net verdwyn in die land se moordstatistieke nie.”

Sy sê dit was en is steeds vir haar emosioneel om daaroor te praat omdat sy oor die jare heen die slagoffers deur hul families leer ken het. Die afspraakmoordverhaal het daarom “deel van my geword”.

Dit is ook hoekom dit belangrik vir haar was dat die reeks “die ware gebeure moes weergee”.

“Ek was immers elke dag van die moordverhoor in die hof en het maande lank navorsing gedoen voordat die boek gepubliseer is. IdeaCandy (wat die reeks vervaardig het) het gelukkig my visie gedeel.”

Die reeks bestaan uit talle onderhoude met kenners, kundiges en familielede van die slagoffers sodat almal self hul storie kan vertel. Marx sê haar rol was dus om “die storie te laat vloei en die feite in die verskillende weergawes (die stories wat almal vertel het) uit te lig”.

“As joernalis en skrywer van Afspraak met moord is ek tevrede met die akkuraatheid en egtheid van die produksie,” sê sy.

“As ’n aanhanger van al wat ’n internasionale misdaadreeks is, dink ek hierdie produksie kan, wat gehalte betref, op wêreldvlak meeding.”

  • Al vier episodes van Devilsdorp is op 29 Julie op Showmax uitgereik. Die ouderdomsbeperking is 16.
Meer oor:  Afspraakmoorde  |  Krugersdorp  |  Electus Per Deus  |  Cecilia Steyn  |  Rapport  |  Leon Van Nierop  |  Jana Marx  |  Showmax  |  Devilsdorp  |  Netwerk24  |  Tv
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.