Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Nog gebroke verhoudings herstel op ‘Die uitnodiging’
Cato Bekker, aanbieder en vervaardiger van ‘Die uitnodiging’. Foto: Facebook

Die koronaviruspandemie het mense laat besef watter verhoudings vir hulle belangrik is – en die tweede reeks van Die uitnodiging op kykNET probeer om sulke verhoudings wat verbrokkel het, te herstel.

Die uitnodiging bied ’n platform om mense met hul vervreemde geliefdes te verenig. Ons skep ’n neutrale omgewing wat oop is vir eerlike gesprekke,” sê Cato Bekker, aanbieder en vervaardiger.

“Vir byna almal van ons was die Covid-19-inperking ’n tyd van besinning en introspeksie.

“Dit het mense gedwing om weer na die verhoudings in hul eie lewe te kyk. Sommige is dalk gebroke, ander dalk verwaarloos. Wil ons so aangaan?”

Die eerste seisoen van Die uitnodiging is in Oktober verlede jaar op kykNET uitgesaai.

Elke episode begin met ’n onderhoud met die persoon wat ingeskryf het, wat gewoonlik ’n derde party is. Hulle vertel meer oor die mense met wie hulle haaks is, waaroor dit gaan en waarom hulle hoop dat die verhouding herstel kan word.

Daarna ry Bekker en die span na een van die partye om uit te vind waarom die konflik ontstaan het, hoe dit hulle beïnvloed en of hulle met die ander persoon versoen wil word.

Bekker wag om te sien of ’n deelnemer die uitnodiging aanvaar het om hul verhouding te herstel.

Hierna word dieselfde vrae aan die ander party gevra. Dan word albei partye na ’n ete genooi ten einde te versoen, maar nie almal aanvaar die uitnodiging nie.

Bekker sê sy kan nie een episode uitsonder nie, want elkeen staan vir haar uit. “Elke verhouding wat herstel word, het sy eie unieke karakter – van ’n pa-en-seun-verhouding tot ou, verlore vriendskappe wat herstel word.

“Daar is verskillende redes hoekom mense haaks is en elkeen het sy eie konteks. Daar is vir my spesiale oomblikke in elke episode en ek is elke keer bly as ’n verhouding hernu is.

“Verhoudings is nou eenmaal kompleks. Mense maak foute. Nie een van ons is so perfek dat ons nooit ’n haakplek ervaar nie. In elk van ons lewens gaan ons, minstens ’n paar maal, ’n fout maak wat ’n verskoning verg.

“Daar is verleentheid, en miskien selfs skaamte, as ons iemand se gevoelens seergemaak het. Soms dink ons dat ons reg is, of minstens meer reg is as die ander een. En dan kom die moeilikheid: Albei partye oortuig hulself van hul onskuld en niemand wil eerste om verskoning vra nie.

“Daar is egter iets baie spesiaal wat gebeur as iemand vir iemand anders jammer sê. Dis dalk moeilik, maar dis die moeite werd.”

Bekker sê sy verstaan dat sommige mense huiwerig sal wees om hul gebroke verhoudings met die land te deel. Vir diegene wat dinge op hul eie wil uitpraat, raai sy aan om eerlik te wees.

Bekker gesels met partye wat versoen.

“Dit begin deur te práát oor die probleem en hoekom julle probleme ervaar. Moenie fokus op enige individu se tekortkominge nie. Ons het almal maar ons foute.

“Fokus liewer op die toekoms en om eenmaal reg te maak, en dan te keer dat soortgelyke ongelukke weer in jou lewe opduik. Indien dit moeilik is om dit op jou eie te doen, nader ’n professionele persoon om ’n gesprek te fasiliteer. Ons help graag.”

Dink sy alle verbrokkelde verhoudings kan herstel word? “Ja, ek dink enige gebroke verhouding kan weer aanmekaar ‘gesweis’ word, as almal net eerlik is en saam daaraan werk.”

Die tweede seisoen van Die uitnodiging begin op 22 Julie om 21:00 op kykNET. Die eerste seisoen is steeds beskikbaar op Showmax.

Skryf so in

Aansoeke vir die tweede seisoen van Die uitnodiging is nou oop. Suid-Afrikaners wat ’n verhouding met geliefdes wil herstel, word aangemoedig om in te skryf.

Gaan na die program se amptelike blad op die DStv-webwerf, of op Facebook. Jy kan ook ’n e-pos stuur na inskrywings@dieuitnodiging.co.za.

Deelnemers moet Suid-Afrikaanse burgers van 18 jaar of ouer wees, en moet woon in Gauteng of die Wes-Kaap.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.