Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
‘Noot vir Noot’-wenner wil boek oor program skryf

Michael Abrahamson (51) van Johannesburg het Donderdagaand die 44ste reeks van Noot vir Noot gewen en prysgeld van R63 500 in sy sak gesteek. Die deeltydse mentalis, sportkommentator en dosent in statistiek het met Christiaan Boonzaier gesels oor mentalisme, sy tweede deelname aan die reeks en die boek wat hy nou oor die musiekprogram wil skryf.

Michael Abrahamson (links), wat die 44ste reeks van Noot vir Noot gewen het, saam met die musiekprogram se voormalige aanbieder, Johan Stemmet. Foto: Facebook

Het jy verwag om te wen?

Nee, definitief nie. Ek was net bly om die eerste episode waarin ek verskyn het te wen. In die halfeindronde het ek teen baie strawwe kompetisie te staan gekom; toe ek dít wen, was dit eintlik my grootste prestasie in die reeks. In die eindronde was ek ver voor die ander, en was ek meer ontspanne. Ek het werklik nie verwag om te wen nie, maar ek het gedoen wat ek kon om voor te berei.

Hoe het jy voorberei?

Ek het na ’n bietjie musiek geluister en ook na ’n paar ou episodes van die reeks gekyk, hoewel ek weet die reeks het ’n databank van 20 000 liedjies waarmee hulle ons kon vasvra.

Is dit waar dat jou deelname aan die reeks ’n lewenslange droom was?

Ja, ek kyk die reeks al jare en jare. Ek was eintlik in 2000 ook in die reeks – ek dink dit was reeks 20 – maar ek is in die halfeindronde deur die uiteindelike wenner uitgeknikker. Ek wou sedertdien weer probeer, maar Johan (Stemmet) het gesê ek kan eers weer probeer wanneer die reeks se formaat verander. Toe hulle ’n nuwe aanbieder (Emo Adams) aankondig, het ek ’n kans gewaag en hulle weer genader. Ek was baie bly toe hulle my vir ’n oudisie nooi.

Jy beskryf jouself as ’n mentalis. Wat is mentalisme?

Die beste definisie is om dit as magic of the mind te beskryf. Ek gebruik wetenskaplike vaardighede uit die sielkunde, liggaamstaal, wiskunde en die geheue om inligting te stoor. Ek doen ook vertonings daaroor vir ondernemings oor die land heen, ook op toerskepe.

Was dit tot jou voordeel in die reeks?

Definitief, veral in terme van liggaamstaal, herinneringsvermoë, en om koel en kalm te bly. Natuurlik kon ek nie die antwoorde voorspel nie, maar ek kon die ander deelnemers se liggaamstaal lees en tred hou met hoe hulle vaar.

Ek sal graag ’n boek hieroor wil skryf – strategieë wat ’n mens kan gebruik om goed in die program (Noot vir Noot) te doen. Daar is definitief aspekte wat tot my voordeel was, byvoorbeeld om nie voor die opnames met enigiemand te praat nie – dit lei ’n mens se aandag af. Nog ’n aspek is om nie, byvoorbeeld, agter die vierde (en laaste) podium te staan nie. As jy eerste gaan, raak jy vinnig van al jou senuwees ontslae. As jy laaste gaan en die deelnemers voor jou vaar baie goed, begin dit met jou kop smokkel en raak jy vinnig die pad byster.

Wat wil jy met jou prysgeld doen?

Dit is klaar bestee – die reeks is in Mei opgeneem. Ek het ’n rugbesering gehad, so ek kon nie behoorlik werk nie. My prysgeld is dus op huishoudelike uitgawes uitgegee. Dit hou nie baie lank nie.

Meer oor:  Johan Stemmet  |  Musiek  |  Noot Vir Noot  |  Tv  |  Michael Abrahamson
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.