Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Nuusleser ’n pienkvoet ryker

Daniëlla van Heerden (34), nuusleser op eNuus, en haar man, Cornél (34), ’n vryskutfotograaf, het Woensdag ’n babadogtertjie in die wêreld verwelkom te midde van die uitbreking van die virussiekte Covid-19.

Cornél en Daniëlla van Heerden pas ná die geboorte van hul dogtertjie, Simoné.

Simoné Janke van Heerden is Woensdagoggend in die Life Flora-hospitaal in Roodepoort gebore.

Daniëlla sê sy is dankbaar dat klein Simoné lank genoeg gewag het dat haar longe sterk genoeg sou wees om die wêreld in te gaan.

“Alles was reeds gepak en gereed die oggend voor die keisersnee.

“Die week voor haar geboorte het al die dinge met Covid-19 begin gebeur. Die president het reeds aanbeveel dat mense hulle isoleer.

“My kraamverlof het gelukkig toe begin en ek wou vir seker nie siek raak nie, so ek het in die laaste paar dae nie ’n voet buite die huis gesit nie.”

Op die oggend van Simoné se geboorte is die keisersnee effens later as verwag gedoen omdat dokters by die hospitaal juis ’n groot vergadering gehou het oor planne om die pandemie aan te pak, sê Daniëlla.

Simoné het ’n gesonde 3,165 kg geweeg.

Cornél, ’n gesoute fotograaf wat in ’n stadium ook vir Beeld gewerk het, het lank besin of hy sy kamera wou saamneem vir die geboorte.

“Voor die tyd het ek nogal gewik en geweeg oor of ek moet foto’s neem. Partykeer hou ek daarvan om die kamera net neer te sit en dinge te ervaar, maar ’n dag of twee voor die tyd het die inspirasie daarvoor my gevang,” sê Cornél­.

Simoné Janke van Heerden. Foto: CORNÉL VAN HEERDEN
Daniëlla van Heerden sit op ’n stoel in die hospitaal saam met klein Simoné. Foto: CORNÉL VAN HEERDEN

Hy het gedink dit sou lekker wees om die dag vas te vang waarop Simoné gebore is.

“Ek ken die waarde van foto’s. Dit gaan dol op die dag en ek weet nou die foto’s is ’n noodsaaklikheid en ek is glad nie spyt daaroor nie,” sê hy.

Simoné sal vandag saam met haar ouers kan huis toe gaan en ook die drie Jack Russell-terriërs ontmoet.

’n Pandemie en staat van inperking is nie iets wat jy jou sommer kan indink nie.

“Dit is absoluut iets waarop ’n mens nie kon voorberei nie, wat seker maar goed is omdat jy dit hanteer soos dit kom,” sê Daniëlla.

Ná die geboorte van Simoné kon hulle uiteraard nie besoekers ontvang soos wat hulle beplan het nie.

“Ons ouers sou kom kuier het om hul kleinkind te ontmoet en dit kon nou nie gebeur nie, maar ons stuur nou maar baie foto’s en video’s.”

Die voordeel, sê Daniëlla, is dat hulle vandag kan huis toe gaan en daar ’n nessie vir die gesin­ kan skep.

Albei miskrame was in ’n baie vroeë stadium, om en by sewe­ weke, voordat ’n mens nog regtig kon opgewonde raak oor ’n baba.

“Ons hoop om binnekort ons vriende en familie te kan sien, al gaan sy dan al ’n bietjie ouer wees.”

Die Van Heerdens se pad na hul eersteling se geboorte was ook nie maklik nie.

Daniëlla het twee keer vantevore miskrame gehad – in 2018 en 2019.

“Albei miskrame was in ’n baie vroeë stadium, om en by sewe­ weke, voordat ’n mens nog regtig kon opgewonde raak oor ’n baba.

“Vroeg was daar al teleurstelling en dit verander ’n mens se benadering ’n bietjie. As jy dan weer swanger raak, is dit nie met daardie absolute vreugde en sekerheid nie.”

Daniëlla sê sy het met dié swangerskap medikasie geneem en toe hulle sien hoe baba Simoné groei, het die opgewondenheid oorgeneem.

Die egpaar se grootste wens vir Simoné se toekoms is dat sy gesond sal wees en baie liefde sal ervaar.

“In die omstandighede waarin ons onsself nou bevind, fokus ons regtig op gesondheid, dat sy ’n gesonde en gelukkige meisietjie sal wees.”

Meer oor:  Daniëlla Van Heerden  |  Roodepoort  |  Fotograaf  |  Baba
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.