Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Nuwe begin vir Nadia Valvekens

Nadia Valvekens het haar behoorlik tuisgemaak in die Kaap en sien uit na ’n lewe en loopbaan met vele nuwe geleenthede. Sy het met gesels.

Nadia Valvekens met haar splinternuwe haarstyl as brunet.

Aanhangers van die kykNET-sepie Binnelanders het langtand afskeid geneem van Pippa, die minsame assistent­matrone wat diep in hul harte gekruip het.

“Die verandering was nodig,” sê Nadia Valvekens wanneer ek na haar effe windverwaaide bronsbruin hare beduie. “Die nuwe haarkleur bring ’n ander energie, ’n nuwe begin. Baie mense het gesê dis moeilik daar buite en ek was bang ál wat mense sien, is Pippa.

“En ek het beslis nie minder pret omdat ek nie meer ’n blon­dine is nie,” sê sy en lag. “Ek is van nature warm, oop en is altyd toeganklik.”

Heel tuis in Melkbosstrand

Ons gesels by ’n koffiewinkel in Milnerton, ’n entjie van haar nuwe tuiste in Melkbosstrand. Die gesprek fokus aanvanklik op die beweegrede vir haar trek Kaap toe.

“Ek mik nou al ’n paar jaar Kaap toe, maar die geleenthede was nie daar nie. Om Pippa te speel was ’n wonderlike ervaring vir my as mens en aktrise, maar daar was ’n brandende begeerte om te groei wat ál meer op my hart begin druk het,” sê die 37-jarige aktrise.

Baie mense by die werk het my gevra of ek nie vreesbevange is nie, maar my gut het vir my gesê dis tyd.

“Die Here het vir my ’n talent gegee en daar is ’n klomp karakters in my wat baie opgewonde is om uit te kom. Ek wou ook nie wag tot ek 50 is en dan spyt wees dat ek nie ál my seëninge gebruik het nie.”

Natuurlik was daar ook die trekpleister in die Kaap genaamd Ivan Zimmermann, die akteur met wie Valvekens al vier jaar lank uitgaan. “So, ja, ek het die laaste paar jaar gereeld hier gekuier; dit was nie ’n moeilike besluit om my tasse te pak nie.

“Baie mense by die werk het my gevra of ek nie vreesbevange is nie, maar my gut het vir my gesê dis tyd. Die harde werklikheid is natuurlik dat dit ’n onsekere beroep is, maar ek is ook nie naïef nie; ek hoef nie heeltyd toneel te speel nie.”

Valvekens het saam met ’n paar vennote ’n leerprogram in toneelkuns geskep wat op ’n interaktiewe platform aangebied word.

“Aanvanklik sal dit by skole beskikbaar wees, maar ons hoop om dit later op ’n meer publieke platform beskikbaar te stel.”

Nuwe rolle

’n Oproep van die aktrise Cintaine Schutte was ook perfekte tydsberekening. Schutte het Valvekens ge­nader om saam met haar in Huishou te speel, ’n stuk wat by verskeie feeste aangebied is. Valvekens is later by Aardklop as beste aktrise bekroon.

“Dit was regtig onverwags, maar ek kon nie vir ’n beter rol gevra het nie. Kyk, dit was vreesaanjaend – ek het saans in koue sweet uitgeslaan – want jy moet weer teaterfiks raak. Jy kan nie vir ’n oomblik fokus verloor op die verhoog nie.

“En terwyl ek besig was met dié stuk, het ek ’n oudisie gekry vir Alles Malan. Ek het skielik soveel werk gehad, ek moes aanbiedinge van die hand wys en het skaars tyd gehad om behoorlik in te pak.”

Die aktrise, wat in Pretoria grootgeword het, erken sy het nog altyd ’n sagte plekkie vir die Kaap gehad. “Ons het Desembers hier kom vakansie hou,” sê Valvekens, wat nou saam met haar geliefde woon.

Ek was aanvanklik on­seker, maar dit was wonderlik. Hy is só ’n goeie akteur en dis maklik om teenoor hom te speel.

Met sentimentele stukke soos haar retro bank van eikehout en haar ouma Petro se antieke spieël, kon sy haar stempel afdruk op haar nuwe tuiste.

“Maar ek was ook nog nooit iemand wat te veel wroeg oor dinge nie; verandering is goed. Dinge verander altyd; dis die een ding waarvan jy seker kan wees.”

Sy het beslis nie gedink in haar eerste televisierol ná Pippa sal sy die rol van Zimmermann se vrou in Alles Malan speel nie.

“Ek was aanvanklik on­seker, maar dit was wonderlik. Hy is só ’n goeie akteur en dis maklik om teenoor hom te speel.”

Wat hul verhouding betref, sê sy: “Dis nie iets wat ek wil bespreek nie. Ek kan net sê daar is niks lekkerder as om in ’n verhouding te wees waar elkeen die vryheid het om homself te wees nie.”

In Alles Malan, wat handel oor ’n gesin wat allerlei kwessies soos finansiële spanning en probleme met tieners moet oorkom, vertolk Valvekens die rol van ’n gedrewe en ambisieuse ma van twee tieners.

In die werklike lewe is sy “ma” van twee yorkshireterriërs, Maya en Eli.

“Dit sal wonderlik wees om ma te wees, maar ek hoor nie my biologiese klok kliphard tik in my ore nie. Die Groot Man daar Bo het wel ’n plan. If it’s meant to be, it will be.

Meer oor:  Nadia Valvekens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.