Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Nuwe gesigte in ‘Suidooster’ te sien

Daar is talle nuwe gesigte wat binnekort in die kykNET-sepie Suidooster te sien gaan wees, waaronder die vermaaklikheidskunstenaar Loukmaan Adams.

Adams is veral bekend vir optredes in musiekblyspele soos Marc Lottering se Auntie Merle: The Musical asook David Kramer en Taliep Petersen se District Six: The Musical.

Volgens Adams, wat Dinsdag sy eerste toneel verfilm het, sal hy in Oktober en November in Suidooster as Gavin, ’n dansinstrukteur, te sien wees.

“Ek het ’n paar weke terug ’n oproep van Suidooster se dialoogafrigter, Oscar Petersen, gekry dat ek vir ’n oudisie moet kom,” sê Adams.

“Dit is baie senutergend, want die akteurs by Suidooster is almal ongelooflik talentvol en ’n mens is so bang jy steek af. Maar almal is baie professioneel en ek voel sommer dadelik deel van die Suidooster-familie.”

Loukmaan Adams in Suidooster as Gavin, ’n dansinstrukteur.

Dit was ook nie Adams se eerste oudisie vir ’n rol in die gewilde sepie nie.

“Ek het in 2017 ook vir ’n oudisie gekom vir die rol van Mymoena se broer, Ismail, maar Sherman Pharo het dit toe gekry,” sê hy.

Wilmer Müller, publisiteitsbestuurder van Suidooster, sê die vervaardigers het dadelik hul oog op Adams gehad toe die skryfspan met die karakter van Gavin vorendag gekom het.

“Ons kan egter nie nou te veel oor die karakter se storielyn verklap nie, maar die rol van Gavin pas hom soos ’n handskoen,” sê Müller.

Leighman Marshall (11) as Quinton, ’n weeskind.

Die bekroonde verhoogakteur Richard September sal ook van 2 September af vir amper twee maande in Suidooster as die karakter Bennie te sien wees.

’n Ander nuwe lid van Suidooster se permanente rolverdeling is Leighman Marshall (11), wat ook in die nuwe rolprentweergawe van Fiela se kind die rol van die jong Dawid Koemoetie vertolk. Sy karakter in Suidooster is Quinton, ’n weeskind.

Jawaahier Petersen, wat vroeër vanjaar as Kaashifa haar verskyning in Suidooster gemaak het, sal van 16 September af permanent in die sepie te sien wees.

Suidooster het onlangs aangekondig dat die veteraanaktrise Annelisa Weiland Johannesburg vir Kaapstad verruil en van November af nog ’n permanente gesig in die sepie gaan wees.

Meer oor:  Suidooster  |  Loukmaan Adams
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.