Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Nuwe ‘Kontreikos’-program kuier by kokke op platteland

Kos het mos ’n manier om mense nader aan mekaar te bring, sê Lynette Francis-Puren, aanbieder van die SABC 2-kookprogram Kontreikos kokke, wat Dinsdag begin.

In dié reeks, wat deur Elize Park en William Warren van Red Sugar Productions vervaardig is, benoem plattelandse gemeenskappe in elke episode drie mense wat hulle dink goeie kokke is.

Dan volg die opdrag: Hulle moet sekere geregte binne ’n seker tyd berei. Daarna stem die gehoor en beoordelaars, maar hulle weet nie wie het wat berei nie. Dus weet hulle nie vir wie hulle gestem het nie.

Die wenner kry R5 000 en staan voortaan as daardie kontrei se wenkok bekend.

Dorpe soos Victoria-Wes, Daniëlskuil, Rosendal, Willowmore, Ficksburg en Keimoes word besoek.

“Dit was hoog tyd om die platteland te besoek,” sê Francis-Puren, ook aanbieder van die SABC 2-aktualiteitsprogram Fokus en aanbieder van Praat saam weekdae op RSG.

“Kombuise is heilige plekke en ons het in mense se huise verfilm. Mense kon deelneem aan iets wat hulle gelukkig maak.”

Terselfdertyd het die staat van inperking uitdagings met die verfilming van die reeks meegebring.

Die reeks sou vroeër verfilm word, maar dis uitgestel weens die tweede vlaag van die Covid-19-pandemie wat die land in Desember en Januarie getref het.

“En die lede van die gehoor mag nie naby mekaar gestaan het nie. Daar was maskers. Van die deelnemers was voorheen siek. ’n Mens moes al daardie dinge in ag neem.”

Francis-Puren het dikwels stories op die platteland gedoen toe sy ’n koerantjoernalis was – ook leefstylstories.

Sy was die radio-aanbieder van Vrouefokus, wat later as Forum bekend gestaan het. En sy was die aanbieder van die kinderprogram Speeltyd.

“Ek hou van kos maak. Ek hou daarvan om by programme betrokke te raak waar ek ’n aspek van myself kan uitleef. Jy wend jou luistervaardighede anders aan.

“Kykers sal hiervan hou. Jy sal jou so inleef dat jy wens jy was daar om hand by te sit en vir die deelnemer te sê: ‘Man, jy kort nog sout!’ ”

Kontreikos kokke word Dinsdae om 19:00 op SABC 2 (DStv-kanaal 192) uitgesaai.

Meer oor:  Sabc 2  |  Lynette Francis-Puren  |  Platteland  |  Kos  |  Televisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.