Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Nuwe M-Net-reeks: As slagoffer en moordenaar mekaar ken

“Is dit ’n wêreldwye probleem, of is net Suid-Afrikaners se lewe so min werd?” vra Willem Grobler, regisseur van die dokumentêre reeks Strangers You Know.

Dit begin Sondag op M-Net en handel oor Suid-Afrikaanse misdade – wat wyd in die media gedek is – waar die slagoffer(s) die moordenaar(s) geken het.

Dié reeks wat uit agt episodes bestaan, sluit in die saak van Henri van Breda wat sy ouers en broer met ’n byl in Stellenbosch vermoor het en die Mooinooi-moorde waarin Joey van Niekerk, en haar vrou, Anisha, deur ’n bende om die lewe gebring is.

“Dit laat ’n mens nie onaangeraak nie,” sê Grobler.

Willem Grobler, regisseur, en Deon van Zyl, kinematograaf, op die stel van ‘Strangers You Know’.

“Ek kom uit ’n fiksie-agtergrond en ek het verlede jaar ’n fliek, A Boere-Krismis, gedoen – ’n ligte komedie. En om daarvandaan ná hierdie stories oor te skakel, is ’n sprong. Ek het al dikwels donker goed geskryf, maar dis iets heeltemal anders wanneer jy met ware verhale en mense se lewe te doen het.”

Daarom wou Combined Artistic Productions, die vervaardiger, dit met die nodige sensitiwiteit benader en drie perspektiewe bied: dié van die slagoffers se familie, die polisie en die regstelsel.

“Daardie perspektiewe wil jy saamweef om ’n boeiende narratief te skep.

My aanslag, veral wat betref die familie van die slagoffers, was om aanklank by hulle te vind, want ons krap nie net rofies af nie – dit is diep letsels wat oopgeskeur word. Ons wil hê die familie moet bereid wees om kwesbaar saam met ons te wees. Van daardie onderhoude is natuurlik baie emosioneel.”

Die reeks fokus ook op die regstelsel en die vraag of dit aangepas sal word sodat sekere misdade anders geklassifiseer sal word met swaarder voorgeskrewe vonnisse.

Die oudste storie waarop die reeks fokus, het reeds meer as ’n dekade gelede gebeur.

Willem Grobler

Die stories was almal betreklik hoëprofiel, wat die uitdaging meegebring het dat die span iets moes doen wat nog nie vantevore gedoen is nie – en dit moet met die nodige sensitiwiteit gehanteer word.

“Sekere sake het ons weggelaat. Soms is dit ’n geval van geen toegang. Dis moeilik om dossiere te kry en die familielede is nie bereid om weer te praat nie.

“Ons wil geen familie uitbuit nie. Ons wil lig werp op ’n saak en hulle kry die kans om hul mening te lug. Jy het nou die kans om dinge reg te stel indien dit destyds deur die media skeefgetrek is.”

Grobler het verwag die verfilming van die reeks gaan swaar oomblikke oplewer, maar niks kon hom voorberei op wat hy gesien het nie – plekke waar ’n moord gepleeg is en lykshuise.

“Ek is as regisseur van nature ’n bietjie meer sensitief en hierdie keer was dit nie ’n akteur se vertolking (soos in die produksies waarop hy gewerk het) wat ek gesien het nie.

“Dit tref jou. Jy besef ook hoe moeilik die polisie se werk is. Ons vertel stories waar geregtigheid geskied het, waar die polisie goeie werk gedoen het.

“Natuurlik hoor ’n mens dit nie aldag nie, maar ’n mens moet besef waarmee hulle elke dag gekonfronteer word. Dinge is werklik gewelddadig en ekstreem in ons land.”

• Strangers You Know begin Sondag om 20:00 op M-Net (DStv-kanaal 101).

Meer oor:  M-Net  |  Televisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.