Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Nuwe natuurreeks van M-Net ‘gaan hartsnare roer’

The Wild Ones, ’n nuwe natuurreeks, gaan emosie by die kykers ontlok, het Jaco Loubser en Josef Moller van Homebrew Films met M-Net se voorskou van dié program Dinsdag in Limpopo gesê.

'n Toneel uit The Wild Ones op M-Net.

Dié eerste natuurreeks van M-Net in meer as ’n dekade begin op 6 Mei en fokus hoofsaaklik op die natuurlewe in Suid-Afrika. Die eerste episode is egter in die Filippyne verfilm, waar M-Net aan die werklikheidsreeks Survivor SA geskiet het.

Die tweede tot vierde episode van The Wild Ones handel oor die rehabilitering van wees-renosters wie se ma’s weens renosterstropery omgekom het.

Dit vertel hoe die mense by ’n toevlugsoord die diere beskerm en ’n band met hulle smee, soms deur selfs saam met hulle te slaap.

Die ligging van dié toevlugsoord word nie in die program bekend gemaak nie om te verhoed dat dit ook ’n teiken van stropers word.

Spesies wat vlieg en skepsels wat onderwater hul bestaan voer, kom ook in die reeks aan die bod.

Die reeks kyk ook na wat agter die skerms by die Twee Oseane-akwarium in Kaapstad aangaan, wat vir die rolprentspan ’n emosionele ervaring was.

“Daar is baie suksesstories wat gedeel word,” sê Loubser, bedryfshoof van Homebrew Films.

“Ons wys goed wat nie aldag goeie nuus is nie, maar ons wil die kyker wel met hoop laat. Dis nie net die donker kant nie. Die program moet ’n leersame ervaring vir die kyker wees. Die lewe onderwater is eintlik grotendeels nog nie vreeslik ontdek nie.”

'n Toneel uit The Wild Ones op M-Net.

Mense vertel in die reeks hul stories met die diere waarmee hulle werk, terwyl sommige episodes net uit natuurtonele bestaan met ’n stemkunstenaar wat die inligting oordra.

Die reeks bestaan uit 13 episodes en sommige stories het toevallig oor die span se pad gekom. Dit is ook iets waarop die span hulle voorberei het.

“Jy moet ook die gehoor vermaak. Jy wil interessante goed op ’n innoverende manier tuisbring,” verduidelik Loubser.

“Meestal het die stories gespruit uit mense en organisasies waarmee ons in kontak is en saam met wie ons al in die verlede gewerk het (soos met die kykNET-reeks Groen, wat Homebrew ook vervaardig het). Ons wil eerlike, outentieke stories vertel en nie sensasioneel of konfronterend (wees) nie.

“Jy sal dikwels aan die einde van ’n episode gelukkig voel,” het Moller, projekbestuurder by Wildlife, ’n afdeling van Homebrew, gesê.

“Mense met geesdrif en ’n werklike belangstelling en liefde deel hul stories. Hulle doen waarvoor hulle lief is.”

  • The Wild Ones begin op 6 Mei om 15:00 op M-Net (DStv-kanaal 101).
Meer oor:  M-Net  |  Televisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.