Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Nuwe reeks wil platteland help ophef met 5-punt-plan

Die voorkoming van die agteruitgang van klein Suid-Afrikaanse dorpies met behulp van ’n praktiese vyfpuntplan is die onderwerp van die nuwe kykNET-reeks Dorpsdraai.

Vanaf 2 April kan kykers Rian van Heerden en dr. Emil Nothnagel volg na dorpies in die verskillende provinsies van die land.

Nothnagel is ’n deskundige op die gebied van ekonomiese ontwikkeling.

In elke episode word eers die positiewe, dan die negatiewe en dan die uiteensetting van Nothnagel se vyfpuntplan weergegee, sê Van Heerden.

Gesprekke met inwoners sowel as die amptenare in die openbare sektor word gevoer.

“Jy kan uiteraard nie in so ’n kort tydjie (die duur van die episode, ’n halfuur) alles volledig takel nie, so afgevaardigdes van Aflead (Local and Green Economic Assisted Development in Africa) gaan vooraf na die onderskeie dorpe voordat ek en Emil daarheen gaan. Op grond van wat hulle daar aantref, kyk ons na hoe ons die episode sal struktureer. Dorpenaars en stadsraadslede is teenwoordig wanneer Emil se plan bespreek word,” sê van Heerden.

Dr. Emil Nothnagel

Aflead is ’n organisasie wat die kommunikasie tussen die plaaslike regerings, die privaat en sakesektor en die gemeenskap bevorder om in maatskaplike en ander behoeftes te voorsien.

Van Heerden verwys na Nothnagel as die “kleindorpie-expert”, maar Van Heerden het net soveel hartstog vir klein dorpies. Die reeks van 13 episodes sluit Heilbron in die Vrystaat, Baberton in Mpumalanga en Thabazimbi in Limpopo in.

“Elke dorpie wat ons besoek se probleem is uniek. Baberton (in die eerste episode) het onwettige myners, om ’n voorbeeld te noem, maar ons probeer dit so benader dat ander dorpe ook by die inhoud van die program kan baat vind.”

Sakemanne wat nie by ’n dorp wil betrokke raak nie en toerisme waarop meer gefokus moet word, is nog van die onderwerpe.

“Jy sien eintlik in vele opsigte die dorp deur die inwoners se oë. Ons praat met die kundiges van die dorp en mense wat die karakter van die dorp goed ken. Hulle sê wat hulle pla en wys dit vir ons uit.”

Hulle verfilm die program meestal oor naweke wanneer die meeste inwoners beskikbaar is.

“Daar is baie belangstelling hierin. Almal word al klaar gekontak om te vra hoe hulle kan help, wat gedoen kan word. Ons het maar elkeen ’n emosionele verbintenis met een van hierdie dorpies.”

* Dorpsdraai begin op 2 April om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Kyk hier na die lokprent: 

Meer oor:  Rian Van Heerden  |  Televisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.