Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
‘Ons dress te min op’

Min mense weet die modeontwerper Gert-Johan Coetzee (31) is ook ’n vernuftige onthaler. Hy het nie verniet onlangs die episode van Come Dine With Me SA gewen waar vier bekendes om die wenprys meegeding het nie. Hy het met Terésa Coetzee gesels.

Gert-Johan Coetzee in een van sy ontwerperspakke soos hy in Come Dine With Me SA gelyk het.

Met wie deel jy jou huis en jou lewe?

Ek is getroud en ons is al 14 jaar saam. Ek het hom ontmoet toe ek 16 en hy 21 was en ons het net onmiddellik verlief geraak en was sedertdien nog nie ’n dag in ons lewe sonder mekaar nie. Ons bly in Linden in Johannesburg, waar my ateljee ook is.

Hoe gereeld onthaal julle?

Ek en my man onthaal baie. Ek maak nogal ’n punt daarvan om een of twee keer iets saam met my kliënte te doen en ons nooi graag ons kliënte om vinnig iets saam met ons te eet. Dis baie informeel, maar wanneer ’n mens saam ’n broodjie breek, is daar onmiddellik ’n diepte in jou verhouding met mekaar.

Die ete wat jy voorgesit het op Come Dine With Me SA was indrukwekkend.

Ek moet bieg, ek het baie moeite daarin gesit en dis min of meer die heel beste wat ek kan doen. Ek dink dis belangrik dat kos nie net lekker smaak nie, maar dit moet ook mooi voorgesit word. Ek glo in eenvoudige geure en smake.

Ek het op YouTube geleer kosmaak; ek het nie met fine dining grootgeword nie. My ouers was beesboere, so ek verstaan boerekos, maar niks anders nie.

Ek is ’n millennial – ek los ál my probleme op die internet en YouTube op.

Hou jy van kosmaak?

Ek hou daarvan om kos te maak wat vir my lekker is, maar meer nog, wat gesond is. Ek is fanaties oor my gesondheid; ek glo dis waar alles begin en eindig. Ek kan nie ’n trourok ontwerp en maak as ek nie gesond voel nie, dis so eenvoudig soos dit.

Ek probeer koolhidrate en suiker vermy en ek glo ook daaraan om vir 19 uur ’n dag aaneen te vas. Ek oefen elke dag en eet net een keer ’n dag.

’n Mens kon in Come Dine With Me SA sien dat jy kompeterend is en daarop uitgegaan het om die kompetisie te wen.

My lewensmotto en persoonlike hashtag in die lewe is #alwayswinning. As ek nie gewen het nie, sou ek dit aanvaar het, want ek het geweet ek het my heel beste gedoen.

Ek het onlangs aan ’n internasionale kompetisie deelgeneem en nie ingekom nie en dit was ’n groot teleurstelling aanvanklik. Maar ek het besef ek het regtig alles in my vermoë gedoen en toe daarby berus. Ek weet alles gebeur vir ’n rede. Volgende jaar sal ek weer inskryf en weer probeer.

In Come Dine With Me SA was jy ingestel op etiket. Jy het blomme vir die ander gasvroue gevat en was by elke geleentheid mooi aangetrek . . .

My vriende weet as hulle by ons kom eet, moet hulle opdress. Ons doen dit heeltemal te min in die lewe en vergeet hoe lekker jy voel as jy behoorlik aangetrek is. Dít wat jy aantrek, sê baie van jouself en jou selfrespek.

En om vir jou gasvrou blomme te vat of ’n bottel wyn vir die gasheer is bloot goeie maniere.

Ons doen nie bring-en- braais nie. Wanneer ek my vriende oornooi, sorg ek dat ek kos vir hulle het en hulle hoef nie nog te bekommer om enigiets saam te bring nie. Hulle kom net kuier en ontspan by ons huis.

As jy enige vyf mense (lewend of dood) na jou etenstafel kan nooi, wie sal dit wees?

  • Oudpres. Nelson Mandela – want hy is Nelson Mandela en ’n mens hoef niks meer oor hom te sê nie.
  • Oprah Winfrey – ek het haar onlangs gedress; sy was in my huis en sy is amazing.
  • Gayle King – sy is Oprah se bestie en hulle is net amaz­ing saam.
  • Ek is baie aangetrokke tot Jane Fonda – sy is my absolute gunsteling.
  • Jessica Lange, want sy is ook net amazing.

* Come Dine With Me South Africa word Maandae 20:00 uitgesaai op BBC Brit. Daar is ook heruitsendings Woensdae 21:00 en Saterdae 19:00.

Meer oor:  Gert-Johan Coetzee
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.