Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Ons moet saamstaan, mekaar liefhê
Samantha Leonard beskryf haar styl as eklekties – sy hou daarvan om mooi aan te trek en rond te speel met die klere in haar kas. Foto’s: Brendan Croft

Sedert Samantha Leonard in 2017 derde in The Voice SA geëindig het, het baie dinge vir haar verander. Sy het pas haar nuwe enkelsnit uitgereik en sy is besig om groot sukses te behaal met haar sangloopbaan. Sy beantwoord Terésa Coetzee se vrae.

Hoe het The Voice jou lewe verander?

Dit het alles verander. Ek het soveel ondersteuners bygekry wat my van dag een af bystaan. Dit het my die geleentheid gegee om oor die land heen op massiewe platforms op te tree, en my die voorreg gegee om aan te hou doen waarvoor ek so oneindig lief is – om te kan sing.

Ek is besig met ’n klomp optredes, my dagboek loop vinniger as waaraan my voete gewoond is en dis die beste gevoel van my lewe.

The Voice SA was ’n groot hupstoot vir my sangloopbaan en ek sal altyd dankbaar wees vir die geleentheid wat vir my gegee is.

Swart en rooi is haar gunstelingkleure.

Vertel ons van jou heel eerste enkelsnit wat jy pas bekend gestel het.

Die liedjie se naam is “ ’n Duisend keuses”, my heel eerste enkelsnit en die fondament van my solo-album waaraan ek werk. Dis ’n baie persoonlike liedjie wat vertel waarom ek so baie daarvan hou om te sing en hoe dit my inspireer en laat voel as ek sing.

Musiek is wie ek is, dis in my bloed en dis die enigste ding wat my motiveer om nooit op te gee wanneer dit by my drome kom nie. Dit is vir my ’n voorreg om my storie deur middel van musiek met die wêreld te deel.

Die liedjie kom uit my eie pen en hart, en vertel die storie van my loopbaan en van die keuses wat ek moes maak om hier te kon kom. Dis ’n weerspieëling van my hart en waar ek in hierdie stadium van my lewe is.

Daar gaan 13 oorspronklike liedjies op die album wees waarvan ek sewe self geskryf het. Een van die 13 liedjies is Engels. Om die liedjies te kies was maklik; elke liedjie op die album spruit uit ’n persoonlike ervaring in my lewe.

Wie is jou grootste rolmodelle en hoekom?

My ouers. Hulle geloof, menswees en uithouvermoë motiveer my elke dag en maak my ’n beter persoon. Ek bewonder hulle!

As jy ’n paar Suid-Afrikaanse kunstenaars moet uitsonder wat jy bewonder, wie sal dit wees?

Ek is mal oor Corlea Botha en Tarryn Lamb. Albei het ongelooflike stemme en powerhouse vocals!

Wie is jou gunsteling- oorsese sangers?

Celine Dion;

Jessie J;

Sam Bayley; en

Tori Kelly.

Jy lyk altyd goed. Hou jy daarvan om klere te koop?

Dankie vir die kompliment.

Ek hou daarvan om inkopies te doen ja, maar ek moet myself moed inpraat en genoeg rus kry voordat ek die uitdaging aanpak, want as ek begin, kan ek nie ophou nie. Ek is mal oor swart-en-rooi uitrustings. Ek het ’n eklektiese styl; ek koop nie net by een winkel nie.

Jou gunsteling-parfuum?

Dolce & Gabbana.

Een van die vele gesigte van Samantha.

Wat is jou vyf gunstelingflieks van alle tye?

1. Safe Haven;

2. The Impossible

3. Burlesque;

4. A Star is Born; en

5. Pretty Woman.

Wat is die belangrikste lewensles wat jy geleer het?

My grootste les wat ek geleer het is om nooit staat te maak op ander om my drome te laat waar word nie – dis net iets wat jy vir jouself kan doen.

Daar is duisend keuses voor ons neergelê in die lewe en dis ons verantwoordelikheid om die regte besluite te neem.

Partykeer maak ons die verkeerde keuses en kry baie seer, maar dis wat ons uit daardie foute leer en hoe ons weer opstaan wat saak maak. Ek dink nie iemand kan mens regtig ooit daarop voorberei nie, jy moet self daardeur gaan, leer, en as mens en kunstenaar groei.

Is daar ’n liefde in jou lewe?

My tien maande oue pekinees-brakkie.

Mense raak deesdae baie negatief oor ons land. Hoekom is jy positief om hier te woon en werk?

Daar is oor die wêreld heen hartseer en negatiwiteit. Weghardloop van probleme is nie waaraan ek glo nie.

Ons moet as ’n land saamstaan en mekaar liefhê.

Meer oor:  Samantha Leonard  |  The Voice  |  Musiek  |  Sanger
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.