“My rakleeftyd is lánkal verby, so dit was vir my ’n groot verrassing.”
So sê die voormalige televisieaanbieder Rita van den Heever oor haar rol in die kykNET-sepie Getroud met rugby.

Rita van den Heever in ‘Getroud met rugby’. Foto: Getroud met rugby
Sy is te sien as Desiré, Thinus (Arno Marais) se ma, wat net tydelik verskyn.
“Ek sal bly wees as sy weer haar verskyning kan maak. Ek het dit so geniet. Ek het in my loopbaan nie baie vir televisie gespeel nie. ’n Mens word mos mooi groot en jy besef jy is nie die wêreld se grootste aktrise nie . . .”
Sy het ’n agent, maar sy meen sy sit dikwels net by oudisies “om die getalle vol te maak”.
“Maar hierdie keer is ek genader om die rol te speel.”
Thinus is gay en Desiré kom kuier by haar seun omdat sy pa dit nie kan aanvaar nie.
“Ek dink selfs al is dit net ’n klein rol, kan dit help om die stigma rondom dit aan te raak. Ek stem saam met haar mening: Dit is die 21ste eeu. Dis baie lekker tekste. Dit maak dit maklik om te speel. Daar is ’n toneel waarin sy haar man goed vasvat.”

Arno Marais en Rita van den Heever. Foto: Getroud met rugby
Hoewel Van den Heever nie dikwels op televisie toneel gespeel het nie, was sy ’n bekende gesig op die kassie.
Sy was ’n kontinuïteitsaanbieder en aanbieder van joernaalprogramme soos Silhouette en Uit en tuis.
Sy het drama aan die Universiteit van Pretoria (UP) gestudeer.
“Dit was in die dae van Neels Hansen en Hannes Horn. Ek en tant Anna (Neethling-Pohl) het ’n lang pad geloop.”
Van den Heever het in 1973 by die SAUK se rolprenteenheid begin werk.
Sy het drie maande nadat Suid-Afrikaanse televisie amptelik in 1976 begin het, haar debuut as kontinuïteitsaanbieder gemaak.
“Die aanbieding van joernaalprogramme was eindeloos interessant en die verskeidenheid was fabulous. Die programme het baie huiswerk geverg en dis wat dit so interessant gemaak het.
“Ek is genadiglik nou al te oud. Ek kan terugkyk op ’n loopbaan wat ek baie geniet het, maar daar is jong mense wat dit vandag goed kan doen.”
• Getroud met rugby word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.