Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Paartjie ’n 1ste op mooimaak-program

Ná ’n kankerstryd en dubbele mastektomie het ’n vrou van Parklands nie net haar hare verloor nie, maar baie van haar selfvertroue. Sy en haar man spog nou egter elkeen met ’n nuwe voorkoms en ’n sprankel in die oog.

Tanya (44) en José (57) da Silva Ferreira is met behulp van Clare Wiese-Wentzel en die Mooimaak-span getransformeer en die reis het hulle net nader aan mekaar gebring. Hul pad van vernuwing is Donderdagaand op die program op kykNET uitgesaai.

Tanya da Silva Ferreira voor en ná haar mooimaaksessie.

Borskanker is by Tanya gediagnoseer toe sy 36 jaar oud was en sy sê toe sy die nuus kry, was haar eerste gedagte dat sy moet veg – vir haar kinders.

“Dit het nie saak gemaak watter behandeling hulle voorstel nie, ek sou dit doen. My man was absoluut ongelooflik, hy het my deur alles ondersteun.

“Hy het my maag vir my ingespuit omdat ek ’n lae witbloedseltelling gehad het, hy het elke dag gesê ek is pragtig en hy is lief vir my.”

Dit was selfs ná die mastektomie toe sy 17 uur in die teater was. Sy sê sy het baie selfvertroue verloor en haar hele liggaam het verander. Sy het ook gewig aangesit weens haar medikasie.

José da Silva Ferreira kry ’n haaroorplanting.

Die operasie was suksesvol en hulle sê dit was te danke aan baie gebede en geloof.

Tanya bestuur nou die niewinsgewende organisasie Breast Cancer Awareness, wat omgee-pakkies aan borskankerpasiënte in die Groote Schuur- en Tygerberg-hospitaal uitdeel.

“Ons ondersteun die vegters, ons bewonder dié wat oorleef en ons eer die oorledenes,” sê sy.

Die paartjie is die eerste tot dusver om saam deur die Mooimaak-proses te gaan. As deel daarvan het Tanya en José albei op ’n dieet gegaan en elkeen 12 kg afgeskud. Daar is werk gedoen aan hul tande en hulle het velbehandelings gekry.

José het ’n haaroorplanting gehad en Tanya het permanente grimering op haar wenkbroue en wimpers gekry, wat byna heeltemal uitgeval het weens chemoterapie.

José da Silva Ferreira voor en ná sy reis op 'Mooimaak'.

Daar was trane in Tanya se ma, Patricia, se oë toe sy die resultate sien. “Sy verdien dit so baie,” sê sy. “Sy gee altyd en help altyd ander. Dit is iets net vir haarself.

“Jo kan nie ophou glimlag nie,” sê sy. Sy meen ook hy het uit sy dop gekruip en meer begin praat as ooit tevore. Voorheen was hy glo skaam en teruggetrokke terwyl Tanya al die praatwerk gedoen het.

“Ek was altyd lief vir my vrou, maar nou het ek ’n sexy vrou,” spot José. “Sy lyk pragtig, en sy het wenkbroue!” merk hul laerskoolseun, Tiago, op.

Oor sy pa sê hy: “Hy praat baie meer, en hy het baie meer selfvertroue. Hy is handsome.”

Mooimaak met Clare Wiese-Wentzel word elke Donderdag om 21:00 op kykNET uitgesaai en volg die mooimaak-reis van 14 Suid-Afrikaners wat nuwe hoop vind.

Meer oor:  Parklands  |  Kaapstad  |  Kanker  |  Borskanker  |  Operasie  |  Hospitaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.