Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Paul preek op die verhoog

Hy was mal oor sy werk in die poskantoor, maar ná meer as vier dekades in die toneelbedryf glo Paul Lückhoff steeds die noodlot het hom op die regte plek uitgespoeg. Deur Maretta Bellingan.

Aanvanklik sukkel jy om die akteur voor jou te onderskei van die karakter op televisie. Dis dan oom Wimpie, met daai pragtige onnutsige groen oë wat altyd lyk asof hy die grootste geheim op aarde gaan uitblaker. Dit help ook nie dat hy a la oom Wimpie daai vinger verwoed swaai om sy argwaan te beklemtoon nie.

Die rede vir sy onstuimigheid, moderne tegnologie. “Ek sê vir jou, ek sit en drink ’n bier daar by die Dros in Mellville en álmal is besig met ’n selfoon. Dis ’n blêrrie euwel man, hierdie Raka, hierdie Satan, hierdie selfoon.

“Ek ontken nie die nut van tegnologie nie, maar dit het die mens se lewe oorgeneem. Mense is so behep met hulle fone en skootrekenaars, hulle luister nie meer radio nie, hulle gaan nie meer teater toe nie, mense het nie meer ’n verbeelding nie.”

Paul Lückhoff as oom Wimpie in Binnelanders.

Dis verseker ’n onderwerp wat hy in sy nuwe eenman vertoning aanspreek.

“Ek preek so ’n bietjie ja,” sê hy en sy gesig kreukel van die lekkerkry, “jy moet onthou ek kom uit ’n familie waar daar omtrent sestien predikante is.”

Hy begin op sy vingers aftel. “Daar’s tien in die NG kerk, een happy clappy… o ja, en my een niggie is ’n sendeling in Zimbabwe. Ek onthou toe ek nog klein was en ons hou vakansie by my oupa in Kleinmond. En álmal is dominees, my oupa, my pa, my broer, ’n hele paar neefs … dan sê my ma vir my, ‘ag Paul my kind, gaan speel jy liewer by die see’.

“Eenkeer sien ek en my broer ’n klomp harders in die branders en ons hol huistoe. My oupa, toe al half blind skreeu, ‘bring die nette’. En my pa, ’n baie streng man, sê ‘Maar Vader, dis die sabbat.’ My oupa sê, ‘Man, teen die tyd dat ons by die see is, het die son al gesak.”

Om stories te vertel

Wanneer Paul Lückhoff gesels, wil jy eintlik net terugsit en luister. Hy is ‘n gebore storieverteller en is allesbehalwe spaarsamig met detail. En op 66 is sy geheue steeds vlymskerp.

“Oupa Danie, die dorpie Lückhoff is na sy broer Jakob vernoem, was die eerste armsorg sekretaris in die Wes-Kaap. Hy was ’n merkwaardige man. Ek brêg vreeslik graag oor hom. Hy het as jong predikant in 1901 in die konsentrasiekamp in Bethulie gaan werk. Hy het vertel al wat hy daar moes doen is bid, troos en begrawe.

“Die eerste twee Lückhoffs wat in 1820 hier geland het, was Rheinse sendelinge uit Duitsland. Hulle het daai bekende Rheinse kerkie op die Braak in Stellenbosch gebou.

En dit was die einde van my loopbaan by die poskantoor.

“Gelukkig het my broer Danie die septer opgetel en ek kon die Breede weg kies,” sê hy met ’n grinnik. “Later jare, toe’s ek reeds ’n akteur, kuier ons by die see en die familie vra vir my ma hoe voel hulle dat ek uit die trop geval het? My ma sê, ‘Julle preek op die preekstoel, Paul preek op die verhoog.

“Ons was drie kinders. My sussie is op twee en ’n half oorlede. Sy’t ’n erge griep opgedoen toe ons by my oupa Paul in Bulawayo gaan kuier het. Hy was ’n treindrywer en ’n skrynwerker. Ek het op sy skoot gesit dan vat hy my vir trippies, ek is nog steeds mal oor treine.

“Kan jy glo terwyl my oupa Danie Lückhoff op 26 predikant was in ’n konsentrasiekamp in Bethulie, was my oupa Paul Maré as 18-jarige ’n krygsgevangene in Ceylon. Darem vreemd hoe die lewe werk.

“As ek eendag die Lotto wen, gaan ek op ’n treinrit van die Kaap tot Kaïro.”

Tussen die kerk en die kafee

Die gesin Lückhoff het ’n tyd lank in Kestle in die Vrystaat gewoon, “daar was net ’n kerk en ’n keffie” en meeste van sy skooljare in Carltonville. “Na skool is ek weermag toe. My ouers wou hê ek moes op Stellenbosch gaan studeer, maar ek kry toe ’n werk in die poskantoor. My ma het amper ’n oorval gekry.

“As dit nie vir haar was nie, was ek dalk nou minister van poswese,” lag hy uitbundig. “Uiteindelik is ek sleepvoet Stellenbosch toe. My broer Danie vra toe waarin stel ek belang. Ek sê ek het nie ’n clue nie, ek wil stront praat oor die radio. Toe sê hy ek moet drama gaan studeer.

Op die feeste kan ek omtrent nie beweeg nie. Almal sien my, ook omdat ek so lank is.

“En dit was vir my aaklig. Die mense was vreeslik weird. Ek skop toe op en gaan werk op Swellendam in die poskantoor, ek was mál daaroor. Ek het sommer persoonlik M.E.R se pos afgelewer. Ek kry toe ’n oorplasing Pretoria toe en daar gaan ek, uitgevat in my blougrys safaripak in my groen Volksie.

“Ek was altyd baie lief vir musiek en wou orrel-lesse neem. Ek het gaan navraag doen by die Pretoria Technikon en toe ek weer sien, toe studeer ek wéér drama. En dit was die einde van my loopbaan by die poskantoor.”

Alles en nog wat

Sy ouers, vertel die man wat sy drie en veertigste jaar in die bedryf vier, was wel baie trots op hom. “Hulle het al die pad van Hanover af Pretoria toe gery om vir my te kom kyk. Later jare het hulle Kleinmond toe getrek en elke liewe show by Kruik kom kyk.”

Hy sal altyd dankbaar wees dat die noodlot hom in hierdie bedryf uitgespoeg het. “Ek het ’n wonderlike verskeidenheid werk gedoen. Dosyne en dosyne verhoogstukke, Kringe in ’n bos en Die Koggelaar was spesiaal, verskeie musiekblyspele, Ons vir jou en Fiela’s Child the Musical waarin ek my byna vrek gewerk het, sal ek altyd onthou.”

Paul het ook in vele opera kore gesing, doen steeds baie radiowerk, maar erken dat hy eers in sy silwer jare meer televisie rolle begin aanvaar het. “In die sewentigs en tagtigerjare het jy neergekyk daarop, ek het televisiewerk van die hand gewys en liewer met skoolproduksies deur die land getoer.”

In die afgelope twee dekades het hy ook heelwat oorklanking gedoen, verskeie klugte en ’n paar eenman vertonings. Sedert 2013 vertolk hy die rol van oom Wimpie in Binnelanders en trek beslis nie meer sy neus op vir televisie werk nie.

“Op die feeste kan ek omtrent nie beweeg nie. Almal sien my, ook omdat ek so lank is. Ek kry oorwegend baie liefde, behalwe hier en daar… Ek staan eenkeer heel rustig met die Here in my hart vir ’n taxi en wag by Aardklop, toe ’n vrou my bydam.

‘Ek wil net een ding vir jou sê ou Wimpie,’ “sê sy vir my”, ‘jy is ’n aaklige man.’ “Ek kan haar seker nie verkwalik nie,” lag hy, “ou Wimpie is maar ’n orige ou man. Wat ons twee beslis in gemeen het is, ek het dit van my ma geërf, ek behandel almal in die lewe dieselfde. Of jy nou ’n graad het of in die tuin werk.

“Nog iets wat ek van ou Wimpie bewonder, is sy gutspa en sy vermetelheid. Hy het sommer by Jana (Brümilda van Rensburg) aangelê. En dank Vader hy het van daai rooi hare ontslae geraak. Al het ek lekker gelag wanneer ek in die spieël kyk.”

Ek luister baie radio en speel skaak teenoor myself as daar nie ’n pél is nie. Ek het ’n paar baie dierbare en lojale vriende, meeste van hulle is in die bedryf.

Hy’s egter opreg dankbaar vir sy werk by die sepie, “ek geniet elke oomblik”, maar erken wel dat hy aanvanklik gesukkel het om sy voete te vind. “Ek kon nie verstaan wat fout is met my nie, ek was verskriklik senuweeagtig en half onvas op my voete.

“Dis toe dat ons besef dat my medikasie aangepas moet word,” sê Paul wat al jare lank die juk van depressie met hom saamdra. “’n Mens leer maar met tyd om dit te bestuur. Ek verpes egter die woord bipolêr, dis so pretensieus. Dis depressie of maniese depressie.

“Ek glo tien persent van die wêreld bevolking ly daaraan, in ons land dalk vyftig persent. Gaan bly net in ’n plakkerskamp vir ’n dag.

Die laaste paar jaar was hy in verskeie toneelstukke te siene waaronder My boetie se sussie se ou en My vrou se man se lyk se tas. “Ek het nog nie datums vir my eenman vertoning nie, maar ek hoop oom Wimpie sal darem ’n aantrekkingskrag wees.”

Gee net jou beste

Hy’s beslis nie ’n ou wat ‘n glansryke lewe lei nie. Wanneer hy saans huis toe gaan, stop hy dalk vir ‘n bier of twee in Melville. “Ek kan my verkyk aan mense en maak stories op oor hulle. Ek het vir tien jaar op ’n vriendin se plasie gebly, maar woon nou in Melville. Ek is eintlik maar ’n regte stadsjapie.

“Ek luister baie radio en speel skaak teenoor myself as daar nie ’n pél is nie. Ek het ’n paar baie dierbare en lojale vriende, meeste van hulle is in die bedryf.

“My oupa het glo in die konsentrasiekamp wanneer dinge vir hom te veel raak, gesê, ‘Dank Vader vir my pyp. Ek sê dank Vader vir my milkstout en vir my ma wat my geleer het om altyd jou beste te gee, of jy nou toneelspeel of twak praat.”

Meer oor:  Binnelanders
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.