Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Persoonlikheid kom eerste vir boer Carel

Boer Carel (29) van Perdekop in Mpumalanga soek nie ’n tipiese boervrou wat sorg dat alles goed en gemaklik vir hom is nie, maar iemand wat op haar eie voete kan staan.

Carel is een van die tien topboere wat in die 14de seisoen van die TV-realiteitsreeks Boer soek ’n vrou op kykNET sal verskyn.

“Ek sal daarvan hou as sy haar eie onderneming op die dorp het en haarself kan besig hou. As sy haar eie inkomste kan genereer, sal dit goed wees,” sê Carel, wat ’n gemengde saai- en beesboerdery het.

Volgens hom is die hoofrede dat hy nog enkellopend is dat hy moeilik vertrou.

Boer Carel

Met die boerdery was hy ook nog te besig om die moeite te doen om na liefde te gaan soek.

“Dit is nie altyd so maklik nie – ’n ou moet ver ry of jy moet ’n klomp vriende bymekaar kry en met vakansie gaan om regtig iemand te ontmoet,” sê Carel. “Dis amper ’n werk op sy eie.”

Maar hy het beslis nou tyd vir ’n vrou in sy lewe en om liefde te vind.

“Ons moet nou begin tyd maak, anders gaan ons nie daarby uitkom nie. Ek is ook nou op ’n meer gemaklike plek in my lewe.”

Hoewel sy familie se mening oor die meisie wat hy kies vir hom belangrik is, is hy vol vertroue dat hulle tevrede sal wees met die besluit wat hy uiteindelik neem.

Hy sien dit as ’n groot voordeel as die familie van die meisie wat hy kies ook van hom hou.

Van al die boere wat tot dusver aan die program deelgeneem het, staan boer Willem Pool van die 12de seisoen vir hom uit.

Die manier hoe Willem situasies gehanteer het, sy manier van praat en sy gemaklikheid was veral vir Carel opvallend.

As hy ’n dame moet uitsonder wat ’n boer gesoek het wat vir hom uitgestaan het, is dit Marné du Plessis van die vorige seisoen, wat uiteindelik boer Déan van Mbombela, Mpumalanga, se hart gewen het.

Dié twee se paadjies het intussen geskei en Déan is nou in ’n verhouding met Megan Wille, een van die drie dames wat by hom op die plaas gekuier het.

“Sy (Marné) het vir my baie ordentlik gelyk en soos iemand na wie ek op soek is. Ek dink sy was oulik,” sê Carel.

Wanneer dit kom by soene uitdeel op die televisie, dink Carel dit is in boere se geaardheid om so ’n bietjie terug te hou.

“Ek dink nie ons gaan ingaan met ’n soen of ’n ding nie!”

Vir hom maak dit nie soseer saak hoe sy meisie lyk nie – haar persoonlikheid dra die grootste gewig.

Waarvoor hy die bangste is op dié reis wat hy nou begin met Boer soek ’n vrou, is die onbekende.

“Dit is iets wat jy nie kan beheer nie. Daar kan dalk iemand instap en jou voete onder jou uitslaan.”

• Diegene wat vir boer Carel wil inskryf, moet ouer as 21 wees en ongetroud, geskei of ’n weduwee wees. Inskrywings moet voor middernag op 29 Julie ingedien word. Vroue kan inskryf op kykNET se webtuiste, www.kyknet.tv, of deur 079 335 5137 te skakel, of ’n e-pos te stuur na boer@marche.media (let wel .media en nie .co.za nie).

Meer oor:  Boer Soek ’N Vrou  |  Boervrou  |  Realiteitsreeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.