Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Piet van Danville daag op in ‘Die boekklub’

Hoewel hy g’n woord oor motors kan praat nie, glo die akteur Pierre van Pletzen hy sou vriende kon wees met sy karakter, Piet, ’n motorwerktuigkundige, wat in die derde reeks van die kykNET-drama Die boekklub sy opwagting maak.

Pierre van Pletzen en Nicole Holm vertolk pa en dogter in die derde reeks van ‘Die boekklub’. Foto: kykNET

Dit begin op 16 Februarie.

“Ek hou baie van Piet se sensitiwiteit,” sê Van Pletzen oor Piet, wat al die pad van Danville, Pretoria, by sy dogter, Hanli (vertolk deur Nicole Holm), op ’n plaas in die distrik Merweville opdaag.

Sy vrou is twee jaar gelede dood en hy is nog baie hartseer, maar terselfdertyd gaan die lewe aan – hy let op as ’n mooi vrou in die omtrek is.

Hanli se baasspelerigheid staan hom egter nie aan nie.

“Ek het só ’n pa en dogter geken. En ja, die dogter was bossy. Nou, tussen Hanli en Piet is daar darem so een of twee gevegte wat 50/50 eindig. Sy wen darem nie elke keer nie. Piet is eintlik maar ’n ou softy.”

Piet en Hanli stamp kop in ‘Die boekklub’. Foto: kykNET

In die eerste reeks het kykers Tom Niemand (Armand Aucamp) leer ken wat ná sy ouma se afsterwe in Merweville aankom.

Daar het hy ’n boekklub teëgekom – en al hierdie mense het hul eie stories, hetsy uitdagings of vreugdes.

Wanneer die derde reeks begin, het Tom reeds die Hertzogprys vir letterkunde gewen.

Van Pletzen het twee keer Merweville in die Wes-Kaap besoek om die reeks te verfilm.

“Nicole is ’n ghrênd aktrise. Haar oor is so fyn. Ons het ook in Fynskrif in ’n episode teenoor mekaar gespeel.”

Van Pletzen het nie net van sy karakter gehou nie, maar hy was ook beïndruk met Louis Pretorius en Albert Snyman, skeppers van dié reeks, se draaiboek.

Pierre as Piet in ‘Die boekklub’. Foto: Eden Wessels

Terselfdertyd het hy dit baie op stel geniet.

“En dit was lekker om weer saam met Nina Swart te werk,” sê hy.

Swart is die regisseur.

“Ons was destyds saam op 7de Laan. Sy het soveel gegroei as regisseur.”

Sy was ook die regisseur van Fynskrif se tweede en derde reekse.

“Ag, ná 17 jaar by 7de Laan was ’n mens eintlik in die woestyn wanneer dit kom by medespelers. Daar is eintlik te min tyd tussenin om lekker met mense op te vang. Hier was dit heerlik om met jou medespelers te gesels. Ons het in ’n skoolsaal saamgeëet. Ek het Jana (Cilliers, wat die rol van Anna vertolk), baie lanklaas gesien. Ons het gepraat oor dinge van jare gelede. Ons tyd by die Nico Malan-teater (nou die Kunstekaap). Ons moes hier en daar eintlik uitpluis wie in watter toneelstukke was. Maar wat ’n lekker opvang!”

Margit Meyer-Rödenbeck as ds. Vera in die ‘Die boekklub’. Foto: Eden Wessels
Nicole Fortuin as Julie in ‘Die boekklub’. Foto: Eden Wessels
Pietie Beyers as John in ‘Die boekklub’. Foto: Eden Wessels

• Nóg ’n paar nuwe gesigte is in die derde reeks te sien:

• Margit Meyer-Rödenbeck vertolk die rol van ds. Vera, wat voorheen ’n marine-bioloog was voordat die Here haar geroep het. Sy ken die Bybel, Koran en Torah op die punte van haar vingers. Sy het vinnig op die klein dorpie aangepas.

• Nicole Fortuin vertolk die rol van Julia, die nuwe distriksgeneesheer. Sy is Sofia (June van Merch) se susterskind en is goeie vriende met Lourens (De Klerk Oelofse). Sy het ’n gewoonte om op die koppies te staan en vir die sagmoediges te sing.

• Pietie Beyers was voorheen in Die boekklub as John, Tom se beste vriend, te sien. Hy keer terug na Merweville en besluit om te bly. Hy raak vinnig bevriend met almal in die dorp en verloor ook sy hart.

Die boekklub begin op 16 Februarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Piet, ’n motorwerktuigkundige van Danville, Pretoria, daag by sy dogter in Merveville op. Foto: kykNET
Meer oor:  Kyknet  |  Pierre Van Pletzen  |  Televisie  |  Dramareeks  |  Akteurs  |  Die Boekklub
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.