Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Politiek sorg vir kykgenot
Kerneels Breytenbach

November is gewoonlik Klaas Vakie-tyd op TV. Dis asof die TV-stasies hul programme só skeduleer dat nie eens studente daarna wil kyk nie. Vervelig verby.

Verlede week het die televisiemedium skielik sy uniekheid vir my herwin met nuusdekking wat ’n mens ure lank besig gehou het. Ure? Dae, man, dae!

Eers het Shaun Abrahams – wat vir my al hoe meer na wyle Leonid Brezjnjef lyk – die nuusdienste besig gehou met sy verklaring oor die terugtrek van die saak teen Pravin Gordhan, ons agbare minister van finansies, en twee van sy voormalige SAID-kollegas.

Dit was aktualiteit van die hoogste gehalte, met baie goeie dekking deur eNCA, skugter dekking deur die goeie ou SABC, en verslagdoening op ANN7 wat ’n mens net gekonfuus het. Laasgenoemde spesialiseer klaarblyklik in gedekolonialiseerde eksperte wat sukkel om by die punt te kom.

’n Dag later was dit tyd vir die saak wat ons seer geliefde president, Jacob Zuma, aanhangig gemaak het oor die openbare beskermer se staatkapingsverslag. Die land het gesmag daarna om te weet wat in die verslag staan, en die advokate wat in aksie was, was skoon omgesukkel.

Dit was nou drama van die heel hoogste aard, twee dae lank, met die ganse land wat middel Woensdag voor hul televisiestelle opgespring het en gejuig het oor die hof se bevel dat die verslag teen 17:00 dieselfde middag openbaar gemaak moet word.

Nou, die groot lekkerkry hierso was om te spring tussen eNCA se harde feite en saaklikheid, en ANN7 se wankelmoedige poging om vrot tamaties wat reeds gegooi is, in vlug van rigting te verander, weg van ons geliefde president af.

Nog is het einde niet. Die volgende oggend het die man wat Eskom omgedraai het, mnr. Brian Molefe, ’n oomblik van diepe ontnugtering voor die kameras beleef, en in ’n swak oomblik erken dat hy ’n sjebeen in Saxonwold besoek het. ’n Mens het hom jammer gekry – maar jy het ook geweet dat hierdie drama nog nie verby is nie.

’n Rukkie later kon die TV-nuuskanale rapporteer dat die voormalige openbare beskermer, Thuli Madonsela, waardering het vir mnr. Molefe se toneelspel, maar dat sy dink hy onthou sake verkeerd.

Omtrent in dieselfde tyd het Shaun Abrahams vir ons tuisgenotjies aan ’n parlementêre komitee vertel hoe goed hy en sy departement eintlik is, maar gelukkig het nog groter sports op ons gewag. ’n Opname van Madonsela se gesprekke met ons geliefde president en sy prokureur is deur
eNCA in die hande gekry en met gepaste beeldmateriaal oor TV uitgesaai.

Dis daai oomblik dat ons almal besef het presies hoe skitterend ’n vrye media kan wees.

’n Paar kanale verder was CNN sedert die begin van daardie week doenig met die FBI se gekarring oor Hillary Clinton se e-pos, en kon ons in detail sien hoe die skaal effens in Donald Trump se guns swaai. Die ding is net dat Trump kaal voor die kameras sou moes paradeer om Suid-Afrikaanse TV-kykers weg te skeur van die ongelooflike skouspel wat verlede week op Suid-Afrikaanse nuuskanale te siene was. Dit is iets om op trots te wees. Daar hang al so lank ’n wolk van somberheid en depressiwiteit oor ons koppe, dat die oomblikke wanneer die son deurbreek en die waarheid in helder fokus plaas, werklik kosbaar is. Dis nou geskiedenis in aksie!

Maar te midde van al die vrolikheid het ek vergeet dat daar vroeër vanjaar aangekondig is dat die nuwe weergawe van die gewilde reeks uit die 1980’s, MacGyver, op 4 November sou begin wys.

Gelukkig het dit toe nie. Ek neem aan dat DStv dit terughou sodat die studente wat eksamen skryf, nie van stryk gebring word nie, en die res van ons wag op nuus oor die jonge Malema se visie vir chaos.

Meer oor:  Kerneels Breytenbach  |  Politiek  |  Televisie  |  Tv  |  Drama
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.