Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
‘Projek Dina’ is moeilike gegewe om mee te werk

Die feit dat ’n kind in Suid-Afrika elke vyf uur as vermis aangemeld word, was vir die aktrise Chanelle de Jager ’n moeilike gegewe om mee te werk in die nuwe kykNET-drama Projek Dina wat Dinsdag begin.

“Ons het maar diep gegrou,” sê De Jager, wat die rol van Ronel Oosthuizen vertolk.

Chanelle de Jager, Tim Theron en Chumani Pan in Projek Dina. Foto: kykNET

“Dit is ontstellende feite. Ek weet nie of jy al ooit in daai situasie was waar ’n geliefde (selfs ’n paar minute) weg is nie. Al die emosies en dinge waaraan jy dink. Mense kry nagmerries daaroor. En die inhoud van die reeks is dinge wat werklik gebeur.”

Roberta Durrant is die vervaardiger van dié reeks wat uit 'n span draaiboekskrywers bestaan.

De Jager se karakter is een van drie speurders in ’n taakspan wat deur ’n brigadier “met die hand uitgesoek” is om sake in Kaapstad op te los.

En hul taak is allermins maklik, want sommige vermiste mense word nooit opgespoor nie.

Die ander twee speurders is kapt. Deon Visagie (Tim Theron) en sers. Lux Dladla (Chumani Pan).

“Ons is uiteenlopende karakters en ons persoonlike lewens bring nog ’n storielyn mee,” sê De Jager.

“Daar is ’n storie aan Ronel se verlede, en as hulle iemand nie kan kry nie of iemand is op die toneel dood, is dit ’n sneller vir haar. Soos die ander gaan sy deur haar eie trauma.”

Dis ook Ronel wat die naam Projek Dina vir die taakspan voorstel.

“Ek was vasgenael toe ek die teks lees – van die eerste episode af. Ek kon dit nie neersit nie. En die stories ... daar is omtrent drie sake per episode en dit gebeur so vinnig.”

Die taakspan steun ook op die hulp van ’n nie-amptelike informant, Charlene “Charlie” Botha (vertolk deur Kay Smith), ’n kuberkraker.

“Hulle moet vreesloos wees om hierdie werk te doen,” sê De Jager.

“Hulle stel hul lewens in gevaar. Dit is so goed geskryf dat elke karakter ’n baie spesifieke rede het waarom hy of sy op hierdie plek op hul lewenspad is.”

De Jager het goed saam met die kameraspan gewerk.

“Ons het baie gelag en almal oor die weg gekom. Sodra daardie kamera begin rol, is dit skree en huil en trauma, drama en angs.”

De Jager, wat naam gemaak het as Des in die destydse M-Net-sepie Egoli: Plek van goud, het die afgelope paar jaar in reekse soos Die Boekklub en Fynskrif, en die rolprent Stroomop verskyn.

Sy bedryf Actor’s Toolbox, ’n nie-winsgewende organisasie wat deur die nasionale lotery befonds word.

“Ons droom is om hierdie jaar genoeg geld te bekom vir kantore waar ons akteurs kan oplei en huidige werkende akteurs kan inkry om hulle op te lei. Die akteurs moet gratis opgelei kan word, maar die gevestigde akteurs moet geld vir hul tyd kry om die opkomende akteurs by te staan.”

* Projek Dina word Dinsdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

Meer oor:  Chanelle De Jager  |  Projek Dina  |  Kyknet  |  Televisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.