Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Qiniso en Gareth: 'Bachelorette'-paar 'sielsgenote'

Qiniso van Damme (28) sê sy het op die TV-werklikheidsreeks The Bachelorette SA haar sielsgenoot gevind in Gareth Ehret (27), en hulle sien hulself eendag as getroudes.

Die paartjie het Vrydag in ’n onderhoud met Netwerk24 meer oor hul verhouding vertel en gesê hulle is vir mekaar bedoel.

In Donderdagaand se episode het kykers gesien hoe sy die beloftering aanvaar wat Ehret vir haar aanbied en vir Henk Nel (Swazi) afsê.

“Ek kan nie my lewe indink sonder haar nie,” sê Ehret, ’n bemarker van Kaapstad.

Die paartjie in Kaapstad met Leeukop op die agtergrond. Foto: Instagram/Franco Basson

Hulle sê sedertdien is hulle smoorverlief, bring elke moontlike oomblik saam deur en kuier saam met mekaar se families. Vrydagoggend was hulle by sy woonhuis in Stellenbosch.

“Gisteraand het ons en ons elkeen se families saam die episode op TV gekyk,” sê Ehret. “Dit was ’n groot feesviering. Ons het gedans, gelag en sjampanje gedrink.

“Ons families mag dalk uiteenlopend lyk, maar hulle is eintlik baie dieselfde. Hulle deel dieselfde belangstellings en waardes en kom regtig goed oor die weg.”

Van Damme sê hoewel dit dalk gelyk het of Ehret se eerste ontmoeting met haar ma, Sibongile, broer, Sandile, en suster, Phumzile, nie lekker vlot verloop het nie, is hulle regtig nou al na aan mekaar.

Sy sê sy het ook ’n goeie band met Ehret se suster, Morgan, sy ma, Leigh, en pa, Brian.

Van Damme sê sy is mal oor die ring wat Ehret vir haar gegee het, geborg deur die juwelier Jack Friedman.

“Ek het daardie ring, en die een wat Swazi vir my aangebied het, voor die tyd gekies.

“Dit is my smaak en ek is versot daarop.”

Die paartjie met hul familielede bymekaar. Foto: Instagram/Gareth Ehret

Die ring is in 18 karaat witgoud geset met ’n ovaalvormige middelste diamant van 1 karaat en ’n band met 18 klein diamante rondom.

Haar ring heet ”The Oval Instinct”, sê die juwelier. “Ovaalvormige diamante beklemtoon elegansie en verleng jou hande. Die ontwerp vertoon sterk klassieke kenmerke terwyl dit vroulike seksualiteit uitdruk. Die oop klou-montering wys die diamant vanuit alle hoeke en beklemtoon die diamant se glans en vonkels.

“Howard Friedman het Qiniso geraadpleeg. Sy wou ’n ring hê wat klassieke verfyning en ’n moderne styl kombineer. Howard het Jack Friedman se kenmerkende Instinct-ontwerp geneem, ’n moderne ovaalvormige diamant bygevoeg en die band met diamante versier – dis ’n ring wat geskik is vir ’n koningin.”

Van Damme sê sy voel sy het huis toe gekom wanneer sy by Ehret gaan kuier.

“Ons is amper perfek,” sê sy.

Die paartjie omhels mekaar op Donderdagaand se finale episode van ‘The Bachelorette SA’. Foto: Verskaf

Ehret sê hoewel Swazi tydens die laaste episode gesê het Van Damme sal ’n fout maak om hom (Ehret) te kies, is daar geen kwade gevoelens tussen hulle nie. “Ek verstaan ’n mens sê soms goed as jy emosioneel is.

“Ons is regtig goeie vriende. Ek is eintlik goeie vriende met die meeste mans in die huis. Dit het amper gevoel soos pelle wat ek gemaak het gedurende ’n reis of in die koshuis,” sê hy.

Die paartjie sê hulle sien beslis ’n regte verloofring in hul toekoms, maar wil eers ’n bietjie meisie en kêrel wees. Van Damme sê sy staan by haar woorde voor die program dat sy drie babas wil hê.

“Ek hoop dat hulle uitkom en lyk soos Gareth,” sê sy.

Meer oor:  Qiniso  |  Romanse  |  Televisieprogram  |  Realiteitsreeks  |  Vermaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.