“Die Quintonator het Binnelanders nou verlaat, maar dit beteken nie dat hy nie kan terugkom nie.”
So sê die akteur Ramey Short wie laaste toneel op dié kykNET-sepie die afgelope week uitgesaai is.
Hy skerts met die naam wat sy karakter, Quinton, homself soms noem.

Ramey Short
Quinton, ’n dokter, verlaat die Binneland-kliniek in Pretoria om vir Dokters sonder grense in Kambodja te gaan werk.
En kort voordat hy vertrek het, het hy en René (Simoné Pretorius) besef hulle is meer as vriende en sy is saam met hom na Kambodja.
“Nog voor die eerste Covid-19-geval het ek besluit om my kontrak by die sepie te kanselleer omdat ek op my musiekloopbaan wil fokus.”
Sy debuutalbum, Kannie breek, is vroeër vanjaar uitgereik.
Rian Swanepoel het die album vervaardig. Short moes dit tussendeur opnames by Binnelanders opneem.
“Ek sou vanjaar getoer het, en toe kom die nuus oor die inperking. Ek is ook ’n fotograaf en sowat 40 troues was bespreek. Dit sou eintlik ’n goeie jaar wees. Maar daar gebeur nog steeds goeie goed. Ek verfilm aan ’n konsert vir VIA. Ek wil meer tyd aan my sangloopbaan bestee. En ek werk reeds aan nuwe musiek.”

Ramey Short as dr. Quinton Meyer in ‘Binnelanders’.
Dit is nie die eerste keer dat Short die sepie verlaat nie.
Hy het in 2008 die eerste keer in Binnelanders verskyn, waarna hy in 2014 by Binnelanders klaargemaak het. Hy het vroeg in 2015 Kaap toe verhuis, maar hy het later ’n rol in die kykNET-sepie Getroud met rugby losgeslaan. In die tyd wat hy in die Kaap gewoon het, het hy ’n stemafrigter gekry wat sy musiekbelangstelling geprikkel het.
Hy is in 2017 genader om weer in Binnelanders te speel.
“Ek het ’n goeie verhouding met Elsje Stark en haar seun, Human (van Stark Films wat Binnelanders vervaardig). Gelukkig het hulle Quinton nie laat sterf nie. Ek hou baie van toneelspel, maar daar is ander passies waaraan ek nou wil aandag gee.”