Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Reeks kyk of gesinne hul ‘troeteldiere’ sal eet

Word ’n vegetariër – of eet jou troeteldier.

’n Vark sal glo een van die troeteldiere in die eerste episode van Meat the Family wees. Foto ter illustrasie: Argief

Dít is die uitdaging wat aan vier gesinne gestel gaan word in die Britse televisienetwerk Channel 4 se nuwe werklikheidsreeks Meat the Family.

Vier vleisetende gesinne gaan in elke episode ’n plaasdier aanneem wat gereeld op mense se borde beland. The Guardian berig die diere in die eerste episode sal ’n lam, hoender, vark en kalf wees.

Die deelnemers moet die diere dan soos troeteldiere versorg en hul persoonlikhede leer ken. Hulle sal ook presies uitvind hoe plaasdiere geslag word, wat die verwerking van vleis behels, en wat die invloed daarvan op die planeet is.

Ná drie weke sal die deelnemers moet besluit of hulle liewer voortaan vegetariërs wil word. Indien wel, sal die plaasdier na ’n veilige dierehawe geneem word. Indien nie, sal hulle die einste dier waarvoor hulle gesorg het, moet slag en eet.

In ’n mediaverklaring op Channel 4 se webblad sê Daniela Neumann, besturende direkteur van Spun Gold, wat die reeks geskep het, die reeks gaan verskeie etiese kwessies rakende voedsel en eet aanraak.

“Hoekom is dit aanvaarbaar om ’n lam te eet, maar ons sal nie ons troetelhond eet nie? Sal jy weer vleis kan eet as ’n maaltyd ’n naam en gesig kry?” vra sy.

Hoekom is dit aanvaarbaar om ’n lam te eet, maar ons sal nie ons troetelhond eet nie?
Daniela Neumann

“Dit is ’n reeks wat ongelooflike navorsing oor diere-intelligensie kombineer met oomblikke wat jou hart gaan vermurwe.”

Nicola Brown, opdraggewende regisseur van Channel 4, hoop die reeks dra by tot die debat oor die eet van vleis en die welsyn van diere.

“Terwyl dit die werklikheid van ’n dier se reis van veld na bord konfronteer, gaan Meat the Family ’n emosionele eksperiment wees wat al die betrokkenes se lewens gaan verander.”

Channel 4 het nog nie ’n uitsaaidatum vir die reeks aangekondig nie.

Meer oor:  Tv  |  Werklikheidsreeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.