Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Rian bied nuwe ‘Wie word ’n miljoenêr’ aan

Hy is oor die land heen bekend as omroeper en televisiepersoonlikheid, en sal eersdaags ook een van die wêreld se gewildste vasvraprogramme in Afrikaans op kykNET aanbied.

Rian van Heerden is Woensdag deur kykNET in ’n verklaring as die aanbieder van Wie word ’n miljoenêr aangekondig.

Hy sal van 27 Oktober op die kassie te sien wees om die Afrikaanse weergawe van die bekende Britse vasvraprogram Who wants to be a Millionaire aan te bied.

Hoewel Wie word ’n miljoenêr die Britse weergawe se formaat volg, sal die algemene-kennis-vrae Suid-Afrika se identiteit weerspieël.

Deelnemers sal soos in die oorspronklike formaat 15 meervoudige-keusevrae korrek moet beantwoord om deur te dring na die finale ronde, waar ’n miljoen rand gewen kan word. Hulplyne soos oor na die gehoor, bel ’n pêl en 50/50 sal ook beskikbaar wees.

Volgens Van Heerden, wat vroeër Op die spel op kykNET aangebied het waar deelnemers se spel- en taalvaardighede getoets is, is dié program se wenresep die spanning wat deurgaans in die episodes geskep word.

“Kykers sit vasgenael voor die televisie om saam te speel en te probeer bewys dat hy of sy self daardie miljoen rand sou kon wen.”

Hy meen die program bied ook unieke uitdagings aan die aanbieder.

“In Wie word ’n miljoenêr is dit net jy en een deelnemer vir ’n groot gedeelte van die episode, en terselfdertyd moet jy ’n vriend én die vraesteller wees.”

Kykers sit vasgenael voor die televisie om saam te speel en te probeer bewys dat hy of sy self daardie miljoen rand sou kon wen.

Deelnemers aan die reeks is ná ’n streng keuringsproses gekies.

Cecil Barry, uitvoerende vervaardiger van die reeks, sê hulle het duisende inskrywings binne twee weke ontvang.

“Diegene wat deurgedring het na die volgende ronde moes ’n individuele onderhoud en ’n tweede toets oor algemene kennis aflê met ’n lid van ons inhoudspan.”

Altesaam 156 kandidate is gekies wat oor 26 weke sal meeding. ’n Groep van ses sal in elke episode deelneem.

Streng veiligheidsmaatreëls is volgens Barry van toepassing om die integriteit van die reeks te beskerm.

“Niemand mag weet wie die vraagopstellers is nie, en die ‘spel-en-vrae’-rekenaar is in ’n hoësekuriteitsvertrek geleë waartoe slegs die operateur, ouditeur en vervaardiger toegang het.”

’n Gehoor van slegs 40 mense word toegelaat, terwyl daar ook aan streng Covid-19-maatreëls voldoen word.

Die program word opgeneem by Atlantic Studios in Kaapstad. Lede van die publiek wat in Kaapstad is en in die gehoor wil wees, kan ’n e-pos stuur na miljoener@redpepper.co.za.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.