Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Rolfes en Moolman ná jare weer op die kassie

Nadat hulle albei lanklaas in ’n dramareeks verskyn het, vertolk die akteurs Hanli Rolfes en Philip Moolman ’n egpaar in Spoorloos: Heksejag wat Dinsdag op kykNET begin.

Gawie en Liesl is die eienaars van ’n lodge naby die fiktiewe dorp Buffelsdrif.

Hanli Rolfes in “Spoorloos: Heksejag” Foto: kykNET

“En hier gebeur allerhande dinge,” sê Rolfes.

“Hul fisieke omgewing is sentraal tot sommige van die gebeure in die reeks omdat dit afgeleë is. Liesl is die sosiale vlinder van die dorp. Sy klou vas aan haar huwelik, want sy dink nie sy sal ’n sinvolle lewe sonder haar man kan lei nie.

“Sy probeer jonk wees en sy is nie meer nie. Sy doen verkeerde dinge om haar man te beskerm, maar wanneer sy die regte ding doen, is dit weer om die verkeerde redes.”

Ilse van Hemert en Christo Davids is die skrywers van die reeks, maar dit volg nie op Spoorloos nie.

Dit bestaan uit ’n nuwe rolverdeling en storielyn.

Van Hemert is ook die regisseur, met Davids as haar assistent.

Adam (Andahr Cotton) word ná meer as 'n jaar wakker uit ’n koma nadat hy in ’n motorongeluk was op die aand van sy matriekafskeid. Sy metgesel is in die ongeluk dood, maar Adam kan niks daarvan onthou nie. Hy onthou net tot die dag voor sy tiende verjaardag.

Moolman voorspel tannies mag hom dalk met hul handsakke bydam.

Philip Moolman in “Spoorloos: Heksejag” Foto: kykNET

“Ou Gawie is ’n dodgy karakter. Hy vang bedenklike dingetjies aan. Hy is een van daardie mense wat koning kraai op die dorp en die groot 4x4 ry. Hy en sy jagpêlle het ’n lekker tyd, maar daar is baie ongerymdhede.”

Rolfes was tot vroeër vanjaar die hoofskrywer van die SABC 2-sepie 7de Laan.

In die tyd dat sy hoof van inhoud en storie-ontwikkeling van die sepie was, het skryf die meeste van haar tyd in beslag geneem.

Daar was min kans om toneel te speel. Sy het nou en dan ’n kort verskyning in ’n produksie gemaak.

“As ’n mens lank nie aan ’n televisiereeks gewerk het nie, is dit asof jy daardie magic op stel vir die eerste keer ervaar,” sê Rolfes, wat in die 1990’s as Sarah-Lee Odendaal in die SABC 1-sepie Generations bekend geword het.

“Dit is lang ure en harde werk. Ek dink elke 30 sekondes wat die kyker sien, het sowat ’n uur geneem om te verfilm. Maar dit was pret. Dit was byna soos ’n Tukkies-reünie, want baie van my medespelers het ook daar gestudeer.”

Nadat Rolfes ’n honneursgraad aan die Universiteit van Pretoria (UP) verwerf het, het sy ’n rol in die dramareeks Die Laksman losgeslaan. Sy was in die laaste jaar van Truk se bestaan ’n lid van dié streeksraad.

“As jy ’n loopbaan in die kunste volg, kan jy dit nie werklik beplan nie. Jy oefen opsies uit. Daarom het ek die geleentheid aangegryp toe Danie Odendaal (skepper van 7de Laan) my genader het om by 7de Laan betrokke te raak.”

Moolman sê die verfilming van Spoorloos: Heksejag was so driekwart voltooi toe die staat van inperking afgekondig is. Toe die maatreëls verslap is, kon die verfilming hervat word.

Dit is in Krugersdorp en in sekere dele van Johannesburg verfilm.

Moolman, wat bekend geword het vir reekse soos Sonkring en die destydse M-Net-sepie Egoli: Plek van goud, is deesdae ambassadeur van die Veterane-bystandsfonds wat aan oudsoldate hulp verleen.

Hy het voorheen die Blou Hond-teaterrestaurant in Linden in Johannesburg besit, maar hy het dit aan die Casa Toscana-restaurant in Pretoria verkoop.

Hy en sy vrou woon in Benoni aan die Oos-Rand, maar hy is nog steeds by die Blou Hond in Pretoria betrokke.

“Dis net ’n paar liedjies in die motor, dan is ek by die Blou Hond. Maar die inperking en die Covid-19-pandemie het ’n moeilike tyd vir teaters en restaurante meegebring. Dit het wel aan kunstenaars die geleentheid gegee om kreatiewe denke aan die dag te lê. Die Blou Hond sal weer blaf.”

Moolman sien uit om na Spoorloos: Heksejag te kyk.

“Ek is nogal nuuskierig oor hoe die hele storie gaan ontvou. Jy neem jou deel van die storie op, maar nou gaan ek ook ’n kyker wees en die geheelprentjie sien.”

• Die ander spelers sluit in Lee Visagie, Gérard Rudolf, Elma Postma, Bertha le Roux-Wahl en Vuyelwa Mpela.

Spoorloos: Heksejag word Dinsdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

Meer oor:  Kyknet  |  Philip Moolman  |  Hanli Rolfes  |  Spoorloos: Heksejag  |  Televisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.