Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
‘Rustige’ boer Petré soek vrou met opregte bedoelings

Boer Petré (25) van Vierfontein in die Vrystaat sal mooi na die briewe en video’s kyk wat vroue vir hom instuur op Boer soek ’n vrou om seker te maak hy kies iemand opreg.

“Ek dink ek kan goed oordeel,” sê Petré, die vierde geslag op die familieplaas. “Ek skat omtrent 60% tot 70% van meisies wat inskryf, sal dit dalk vir die publisiteit doen.”

Petré is een van die tien hubare boere wat vanjaar op die gewilde TV-program op kykNET liefde soek.

Dié program het oor die jare so gewild geword dat deelnemers en hul pasmaats derduisende volgelinge op sosiale media kry en dat sommige hul lewe in die openbare oog leef.

Boer Petré (25) van Vierfontein in die Vrystaat. Foto: Verskaf

Petré sê hy gaan mooi kyk na die video’s wat vir hom ingestuur word, want al is dit net 30 sekondes lank, glo hy hy sal ’n opregte vrou kan uitken.

Sommige mense meen moontlik hy is bra jonk om op ’n TV-program liefde te soek, maar hy reken dit is die perfekte tyd.

“Ek het nog altyd gedink ek wil graag trou op 28 of 29. En ek wil darem ’n jaar of twee in ’n verhouding wees, ’n paar maande verloof wees en dan eers trou.

“Ek was twee jaar in Suid-Dakota, Amerika, en vier jaar op die Puk (Noordwes-Universiteit op Potchefstroom). Ek is sedert November permanent op die plaas en het by my eie huis ingetrek. Die tyd is nou reg.”

Petré, wat boer met sonneblomme, beeste en skape, sê sy droomvrou is vry om haar eie pad te volg – sy kan op die plaas woeker en saam boer, miskien met groente, maar sy is ook welkom om op die dorp ’n loopbaan te volg.

Hy sê hy wil nie al die besluite in die verhouding neem nie, en wil nie ’n vrou hê wat “ja en amen” sê op wat hy wil hê nie.

“Een ding wat ek graag sal wil hê, is dat sy eendag wanneer ons kinders het en as dit moontlik is, ophou werk om haar volle aandag aan hulle te gee terwyl hulle klein is. Dit maak ’n groot verskil in ’n kind se opvoeding.”

Petré sê hy beskou dit as sy plig om die familienaam voort te dra en sal nie sommer oorweeg om van die plaas weg te trek nie.

Petré saam met Rolene Strauss, voormalige Mej. Wêreld. Foto: Verskaf

Hy en sy pa boer saam en ander familielede soos neefs en niggies woon in die omtrek. Daarom is dit vir hom redelik belangrik dat die vrou wat hy kies, hul goedkeuring wegdra.

Hy sê hy bekommer hom nie te veel oor dinge nie en geniet dit tot dusver om saam met die Boer soek ’n vrou-span te werk. “Dit voel of ek drama swot,” spot hy.

Wie is vir hom die mooiste vrou in die wêreld? Rolene Strauss, voormalige Mej. Wêreld, sê hy. Hy het haar ongeveer drie jaar gelede in Hartenbos raakgeloop en sê sy is nederig en baie vriendelik.

• Diegene wat vir boer Petré wil inskryf, moet ouer as 21 wees en ongetroud, geskei of ’n weduwee wees. Inskrywings moet voor middernag op 29 Julie ingedien word. Vroue kan inskryf op kykNET se webtuiste www.kyknet.tv, of deur 079 335 5137 te skakel, of ’n e-pos te stuur na boer@marche.media (let wel .media en nie .co.za nie).

Meer oor:  Boer Soek ’N Vrou  |  Vrystaat  |  Reeks  |  Familieplaas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.