Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Ryno Hattingh volgende week in ‘Binnelanders’

“Dit was byna soos fietsry,” sê die akteur Ryno Hattingh oor sy rol in die kykNET-sepie Binnelanders.

Hy is van Woensdag te sien as Koos, dr. Tertius Jonker (Reynardt Hugo) se pa.

Ryno Hattingh as Koos in ‘Binnelanders’. Foto: Binnelanders

“Koos het ’n siekte, maar Tertius is eintlik kwaad vir hom. Hulle was nooit werklik vriende nie. Hy het ook ’n affair gehad.”

Dit is een van die sepies waarin hy die afgelope tyd gespeel het. Hy het onlangs nog in die SABC 1-sepie Generations en die reeks Isono gespeel.

Voor dit het hy laas in Getroud met rugby verskyn toe dit nog ’n dramareeks was. Hy was ook in die rolprentweergawe hiervan te sien.

“Die eerste dag (terug op stel) is moeilik, maar die volgende dag is jy weer oukei,” sê Hattingh.

“Jy moet daardie fiets weer begin ry. Dis magic op die stel van Binnelanders. En ewe skielik is dit weer pret. Ek en Hans (Strydom, wat die rol van dr. At Koster vertolk) is goeie vriende.”

Reynardt Hugo en Ryno Hattingh vertolk pa en seun in ‘Binnelanders’. Foto: Binnelanders

Om weer woorde te leer was nogal ’n ding, sê hy.

“Op ’n sepie soos Binnelanders moet jy absoluut woordvas wees. In vorige reekse het ons gewoonlik rondom die werkwoord van ’n sin gewerk.

“Maar dis opwindend, ’n good show.”

Hattingh, wat bekend is om reekse soos Konings, Sterretjie,Wolwedans in die skemer en die fliek Kiepie en Kandas, werk volgende jaar aan ’n dramareeks, Bewolkte hart, van Stark Films (wat ook Binnelanders vervaardig).

“Ons sou vanjaar daarmee begin het.”

Hattingh was in 1992 in ’n ernstige motorongeluk, waarna hy na Margate in KwaZulu-Natal verhuis het.

The Fourth Reich
Ryno Hattingh in 'The Fourth Reich'.

“Ek dink het ek so vier jaar daar gewoon. Ek het ná my ongeluk besluit om in mediese fondse en versekering in te gaan en dis nog steeds my bron van inkomste.”

’n Baie groot rol van Hattingh was as die Suid-Afrikaanse bokser Robey Leibbrandt in Manie van Rensburg se reeks The Fourth Reich.

Leibbrandt is op die Olimpiese Spele deur Adolf Hitler en Nazisme bekoor.

“En die rol was nie myne nie. Ek sou ’n klein verskyninkie in die reeks maak. Toe vra Manie my om my hare te sny. En ek doen dit en hy sê: ‘Dit is Robey.’ Maar ons het die volgende dag begin skiet. Dit was ’n nagmerrie. En ek het eintlik ander werk elders gehad. Alles moes geskuif word, maar dit was goed.

“Dit gaan goed met my werk met mediese fondse en versekering, maar ek het besluit why not have fun again? Dis lekker om te speel.”

Binnelanders word weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

Ryno Hattingh as die Suid-Afrikaanse bokser Robey Leibbrandt in ‘The Fourth Reich’.
Meer oor:  Kyknet  |  Binnelanders  |  Sepies  |  Televisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.