Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
SA akteurs praat met parlement oor tantiéme

Die Suid-Afrikaanse Akteursgilde (Saga) lewer Donderdag ’n pleidooi in die parlement dat akteurs tantième ontvang op heruitsendings van rolprente of televisiereekse waarin hulle was.

Jack Devnarain, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akteursgilde (Saga).

Sodoende sal plaaslike akteurs ook op hul oudag nog ’n volhoubare inkomste verdien, sê die akteur Jack Devnarain, voorsitter van Saga, wat dié voorlegging gaan doen.

Hulle ondersteun die Wysigingswetsontwerp op die Beskerming van Kunstenaars.

Weens die gebrek aan statutêre regulasies is Suid-Afrikaanse akteurs al jare in die benarde posisie waarin hulle geen tantième vir hul televisie- of rolprentwerk ontvang wanneer dit weer uitgesaai word nie. Net die uitsaaiers word bevoordeel. Dié vergoeding vir akteurs is ’n standaardpraktyk in ander lande.

“Ons vra dat eksklusiewe regte aan akteurs toegestaan word sodat wanneer ’n oudiovisuele opname (vir televisie en ’n rolprent) van hulle gebruik word – gelisensieer, opgeneem en versprei – die akteur ’n persentasie van daardie inkomste as oorblywende inkomste sal ontvang.”

Indien Saga se pleidooi slaag, kan dit ’n deurslaggewende impak op die Suid-Afrikaanse akteursbedryf hê.

“Dit beteken dat akteurs in staat sal wees om deurlopend ’n gedeelte van hul inkomste te verdien solank as wat die programme of rolprente uitgesaai word.

“So dit kan vir jou voordele inhou, byvoorbeeld later in jou loopbaan wanneer jy dalk te oud of sieklik is om te werk. Akteurs kan hulself dan steeds onderhou danksy die werk wat hulle deur hul hele loopbaan gedoen het.”

Volgens Devnarain is daar verskeie maatstawwe wat aandui hoe ver Suid-Afrika agter is met die vergoeding van akteurs.

Hy beskou die Wet op die Beskerming van Kunstenaars van 1967 as gebrekkig en hy meen dit moet gewysig word.

“Dit het al bestaan voordat televisie in Suid-Afrika begin het, laat staan nog die internet. Mense verwys dikwels na die vierde nywerheidsrevolusie, ’n gedigitaliseerde ekonomie wat behels dat mense baie meer in verbinding is. Mense kan ’n groot verskeidenheid oudiovisuele inhoud op die internet verbruik. Daarom moet dié wet aangepas word.”

Saga is positief oor die voorlegging, maar hulle weet sommige mense sal hulle by die akteurs en ander by die uitsaaiers skaar.

“In die praktyk moet ’n oudiovisuele produk na die mark geneem word en verbruikers moet daarvoor betaal en daarvolgens kan akteurs hul persentasie oorblywende inkomste verdien. Kykgewoontes het al baie verander en dit sal steeds verander, maar daar sal altyd ’n behoefte aan inhoud wees.”

Saga glo die voorlegging kan nie op dowe ore val nie.

“Om akteurs te bemagtig beteken nie dat die uitsaai-sektor benadeel word nie. Dit verhoog elkeen se produktiwiteit, want vir elkeen is daar ’n beter uitkoms wanneer hul werk gebruik word.”

* Verteenwoordigers van die SABC en M-Net het teen spertyd nog nie gereageer op versoeke om kommentaar te lewer nie, maar het onderneem om terugvoer te gee.

Akteurs het ook hul menings oor dié saak gelug:

Gérard Rudolf

Gérard Rudolf:

Baie akteurs offer die beste jare van hul lewe aan die bedryf. Dit gebeur dat van hulle in totale armoede doodgaan en ons kan nie mediese fondse of versekering bekostig nie. Ons moet dieselfde lewe as mense in ander beroepe kan lei.

Ek dink hierdie wetgewing kan ’n helse verskil aan die bedryf maak, want in ander lande is hierdie stryd al baie jare gelede geveg en gewen.

Ek dink 13 September is ’n groot, groot dag.

Ek hoop die voorlegging word aanvaar. Dit is ’n menslike reg vir ons as akteurs om daardie tantième te kry vir die gebruik van ons beelde oor en oor deur kanale en verspreiders ensovoorts.

’n Mens kan dit net nie genoeg benadruk dat hierdie ’n verskriklike groot stap in die regte rigting is nie.

Grant Swanby
Ashley Dowds, wat tans onder meer te sien is in die reeks Scout’s Safari wat op NBC uitgesaai word.

Grant Swanby

’n Hoofakteur word net een keer betaal, ongeag of die program ’n heruitsending is of aan ’n ander kanaal verkoop word. In ander lande ontvang akteurs oorblywende inkomste wat hulle aan die gang hou, maar nie hier nie.

Ashley Dowds

Ek het werk daarbuite met my in ’n hoofrol. Dit voel bisar dat ek moet veg vir betaling en dat die verkoop van die produk aan ’n internasionale mark geen voordeel vir my sal inhou nie.

Talle akteurs het ook hul ondersteuning op sosiale media uitgespreek.

Die akteur Armand Aucamp, bekend om die reeks Die Boekklub en die rolprent Krotoa, het dit met ’n foto van homself gelaai met ’n boodskap op die foto.

Dit lui: “Hi, my naam is Armand Aucamp en ek is ’n Suid-Afrikaanse akteur. Dit is 2018 en ek besit steeds nie die regte tot my beeld of my deel van die winste wanneer die versprei word nie. Ons moet dit verander. NOU! Dit is waarom ek Saga ondersteun en eensgesind met hulle is in hul pleidooi in die parlement om die Wysigingswetsontwerp op die Beskerming van Kunstenaars aan te neem.”

Meer oor:  Suid-Afrikaanse Akteursgilde  |  Saga  |  Jack Devnarain  |  Ashley Dowds  |  Gérard Rudolf  |  Grant Swanby  |  Akteurs  |  Flieks  |  Tantième  |  Televisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.