Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
SA sangeres eers uitgestem, toe gered op ‘The Voice USA’
Sy het ’n foto van haar man met haar Instagram-volgelinge gedeel en beskryf hom as die beste man ooit. Foto: Instagram/ Selkii

Blake Shelton, countryster en beoordelaar op The Voice USA het die Suid-Afrikaanse sangeres Jess Yallup (31), oftewel Selkii, van eliminasie uit die sangkompetisie gered in episode 12 van seisoen 16 wat Dinsdagaand in Amerika uitgesaai is.

Gemiddeld 10 miljoen Amerikaners kyk weekliks die program.

Die kykers het haar uitgestem nadat sy teen die deelnemer Mari Jones te staan gekom het in die nuwe sogenaamde “cross battles”, wat behels dat die 32 deelnemers teen mekaar sing.

Soos Hollywood Reporter berig, het Shelton, Selkii se afrigter in die kompetisie, die een veto-stem wat hy gehad het gebruik om te sorg dat sy nie die trekpas kry nie.

Yallup, wat in Durban gebore is en gereeld in duikpakke rondgeloop het omdat sy gek is oor skubaduik en branderplankry, woon sedert 2017 in Orlando in die deelstaat Florida, Amerika, en staan bekend as Selkii, luidens haar Facebookprofiel.

Selkii het haar bynaam gekry omdat sy ’n waterkind is. Foto: Instagram/ Selkii

Sy het die bynaam Selkii, wat rob beteken, gekry juis omdat sy ’n waterkind is.

Sy het na Dinsdagaand se regstreekse uitsending van The Voice op Facebook geskryf dat sy gedink het sy gaan uitval.

Selkii sê sy is baie gelukkig wanneer sy by die see is. Foto: Facebook/ Selkii

“Ek kan dit nie glo nie! Ek voel so geseënd nou! Ek is so dankbaar vir al die ondersteuning. My hart is vol dankbaarheid. Dit was ’n baie emosionele dag. Ek het gedink ek gaan huis toe,” het Selkii geskryf nadat sy na die volgende ronde deurgedring het.

Selkii, wie se eerste optrede op die program in Maart meer as ’n miljoen keer op YouTube gekyk is, het met die instrapslag reeds die beoordelaars gaande gehad.

Een van die ander beoordelaars, Adam Levine, sanger van die groep Maroon 5, wou haar eerste in sy span hê, nadat sy haar weergawe van Macy Gray se liedjie, “I Try” gesing het.

“My vrou sal my doodmaak as ek jou nie in my span kry nie,” het Levine gesê, berig Billboard.

Levine is getroud met die Namibiese model Behati Prinsloo.

Maar dié Durbaniet het besluit om Shelton, wat in 2017 as die sexyste man in die wêreld aangewys is, te kies.

Selkii sê Shelton is haar held en dit blyk dat sy en Shelton sommer goed klaarkom.

“Dit mag dalk te vroeg in ons verhouding wees om dit te sê, maar ek is baie lief vir Selkii se man. Selkii ook,” het Shelton getwiet nadat hy Selkii vir sy span gekies het.

Selkii het haar man, Edzui L. Szumowski wat as ’n professionele nar werk, ontmoet terwyl hulle albei op plesierbote gewerk het, berig North Country Now.

Selkii was in 2010 een van die topsewe finaliste in Idols Suid-Afrika se seisoen 6.

Meer oor:  Blake Shelton
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.