Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
SA se 1ste TV-held sterf

Die akteur Doon Boshoff, wat in die 1970’s as Suid-Afrika se eerste TV-held beskou is, is Saterdag aan ’n hartaanval dood.

Doon Boshoff

Boshoff (73) het die hoofrol vertolk in die eerste Suid-Afrikaanse dramareeks, Keertyd, uit die pen van Jan Scholtz, wat ook die regisseur was.

Hy het die rol van Bedecker teenoor Rika Sennett vertolk.

Hul karakters het vir mededingende koerante gewerk.

Boshoff en sy vrou, Alta, was op 6 Februarie vanjaar 50 jaar getroud. Hulle het drie seuns en het op Nieuwoudtville gewoon.

Later het Boshoff die hoofrol in Scholtz se fliek April 1980 vertolk en in reekse soos Dirk Hoffman en Bosveldwinkel verskyn.

Theunis Louis Boshoff is op 6 Junie 1948 op Kroonstad gebore en het in Polokwane (destyds Pietersburg) matriek geskryf, waar sy pa se broer die skoolhoof was.

Rika Sennett as Bokkie en Doon Boshoff as Bedecker in ‘Keertyd’.

“Hy het ook gesing en kitaar gespeel,” sê sy oudste seun, Chris Boshoff.

“Ek was so een of twee keer saam met hom op stel. Ek onthou hierdie dinge vaagweg, ek was ’n klein seuntjie. Maar hy is al so lankal uit die bedryf uit. Hy het altyd vryskut gewerk en het advertensies gedoen. Hy was ná skool in die bankwese en later in die motorbedryf op Potchefstroom.”

Alta en Doon Boshoff op hul troudag – 6 Februarie 1971.
Alta en Doon Boshoff was op 6 Februarie vanjaar 50 jaar getroud.

Benewens sy toneelwerk het hy die lirieke van Gene Rockwell se liedjie “Annabel” geskryf, sê Bernard Odendaal, vriend, afgetrede predikant en skilder.

“Doon was ook ’n skilder van formaat wat hoofsaaklik met olie geverf het. Hy en Alta het net ’n bietjie langer as ’n jaar op Nieuwoudtville gewoon,” sê Odendaal.

“My hart sê vir my dis nodig om dalk op wyer vlak van Doon afskeid te neem in hierdie mooi land van ons.”

Doon Boshoff op stel.

Doon het baie jare in Potchefstroom gewoon.

“Dis ook waar ek hom in die laat 1980’s ontmoet het. Ek het juis eendag by die motorhandelaar ingestap toe Gene Rockwell daar was en hulle oor die liedjie ‘Annabel’ gepraat het,” sê Odendaal.

“Ons het destyds ’n hele paar Work & Witness-toere gereël waartydens ons spanne aan twee kerkgeboue en ’n pastorie in Botswana gewerk het. Doon was tydens een van die ekskursies deel van een van ons spanne.”

Hy word deur sy vrou, drie seuns, Chris, Stefan en Eugene, en drie kleinkinders, oorleef.

Doon Boshoff is in die 1970’s as Suid-Afrika se eerste TV-held beskou.
Doon Boshoff het die rol van Bedecker in Jan Scholtz se dramareeks ‘Keertyd’ vertolk. Hier is Bettie Kemp by hom.
Die sangeres Laurika Rauch het ook in ’n toneel in die fliek ‘April 1980’ verskyn.
Meer oor:  Johannesburg  |  Hartaanval  |  Televisie  |  Flieks  |  Akteur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.