Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
SA skrywer se boek word internasionale TV-reeks
T.C. Farren, oftewel Tracey Farren, in haar huis in Scarborough buite Kaapstad.

Die Suid-Afrikaanse skrywer T.C. Farren het eers op 50 begin skryf en reeds met haar derde roman nie net die internasionale boekwinkels gehaal nie, maar The Book of Malachi is ook as ’n internasionale TV-reeks opgeraap.

Dié deurbraak is te danke aan Kwela-uitgewers, wat die waagmoed en versiendheid gehad het om die boek eerste te publiseer.

Dit is geen maklike verhaal nie. “Die boek is tartend en vol uitdagende idees oor reg en regverdigheid. Op die koop toe is die hoofkarakter stom – sy tong is uitgesny.”

So gesels Tracey Farren uit haar huis in Scarborough van waar sy op Kaappunt uitkyk.

Farren het beslis ’n slag met beskrywings wat visueel voor die leser afspeel. Haar vorige boek, Whiplash, het dieselfde aanslag en is aangepas vir die fliek Tess, wat oor ’n sekswerker handel. Die

’n TV-reeks gegrond op ‘The Book of Malachi’ word tans gemaak.

rolprent is in Suid-Afrika vervaardig met Christia Visser as Tess.

Farren vertel verskeie mense het vir haar gesê dit het gevoel of hulle ’n fliek kyk terwyl hulle Malachi se verhaal lees, en dit is presies hoe sy gevoel het toe sy die boek geskryf het. Ook die uitgewer Carolyn Meads van Kwela het die boek voor haar “sien” afspeel.

Brittanje se Little Island Productions, wat die regte verkry het om The Book of Malachi vir ’n TV-reeks van 13 episodes te gebruik, is nie ’n kleintjie in die bedryf nie. Dit het reeds gewilde reekse soos Patrick Melrose met die akteur Benedict Cumberbatch, Indian Summers met Julie Walters en Snatch met Rupert Grint agter sy naam.

Farren sê sy hou van “hoogdrama” wat nie moeilik is om te vind nie – ons hele land is in ’n staat van hoogdrama.

Christia Visser is te sien as Tess in die gelyknamige fliek wat ’n verwerking van T.C. Farren se tweede roman, ‘Whiplash’, is. Haar eerste roman is ‘Snake’.

So is Malachi Dakwaa se verhaal ook vol drama. Weens sy stomheid het hy geen verbintenis met mense nie, maar kry desondanks ’n uitsonderlike werkaanbod. In ruil vir ses maande as bewaarder op ’n hoogs geheime organiese plaasprojek sal Frasier Pharmaceuticals vir hom ’n nuwe tong maak.

Hy word na ’n olieboor ver van enige land gestuur waar hy omring is van krygsmanne en massamoordenaars, dieselfde soort mense wat sy gesin uitgemoor en hom vermink het.

Malachi se sterk sin vir reg en geregtigheid laat hom wonder of die gevangenes regtig so boos is soos Frasier beweer.

Hy ondersoek dan die gedagtes van die moordenaars en dit wat hy vind, was selfs vir Farren ’n verrassing. “En ’n boodskap van lig,” sê sy.

Skryf kom vir haar maklik. Sy was tot onlangs toe ’n vryskutjoernalis, maar in haar boeke bly sy grotendeels weg van die feite.

Die omslag van ‘Whiplash’.

Sy plaas haar karakters in die toekoms omdat sy ’n “wêreld wil verken wat vir haar onbekend is. Ek hou van spekulatiewe fiksie, wat eintlik maar ’n vertakking van wetenskapfiksie is,” verduidelik sy. Maar dit is die onverwagte kinkels in haar verhale wat die uitgewers, plaaslik en internasionaal, opgewonde maak.

Hotel Nowhere, haar vierde roman waaraan sy werk, speel in die nabye toekoms af en gaan oor ’n vrou wat verby woedend is oor die geweld om haar.

“Sy sal enigiets doen om dit te stop en vind inderdaad ’n manier. Dié manier is egter ekstreem, geweldig riskant en sal jou hare laat regop staan. Dit is ook die begin van vroueleierskap.”

• The Book of Malachi is in alle Engelssprekende lande te koop en is ook as oudioboek beskikbaar. In Suid-Afrika kos dit sowat R335, beslaan 304 bladsye en is onder NB-uitgewer se druknaam Kwela gepubliseer.

’n Datum vir die voltooiing van die TV-reeks is nog nie bekend nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.