Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Saftas: ‘How to Ruin Christmas’, ‘Toorbos’ neem voortou

VIA en Netwerk24 se blitsreeks, Duiwelspoort, wat in September verlede jaar op Netwerk24 uitgesaai is, is vir ‘n Suid-Afrikaanse Rolprent-en-televisie-prys (Safta) vir beste aanlyninhoud benoem. 

Die plaaslike Netflix-reeks How to Ruin Christmas: The Wedding het met 13 benoemings die voortou geneem in vanjaar se stryd om ’n Safta.

Die rolprent ‘Toorbos’ spog met nege Safta-benoemings. Foto: The Film Factory

Duiwelspoort is saam met AFI Fashion Week 2020 en Noko Mashaba vir beste aanlyninhoud benoem.

Benewens die prys vir beste TV-komedie en beste draaiboek, is Desmond Dube en Busisiwe Lurayi vir hul spel in die hoofrolle benoem, terwyl Clementine Mosimane en Motlatsi Mafatshe ’n kopknik vir hul ondersteunende rolle gekry het.

Mosimane het verlede jaar ’n Safta gewen vir haar hoofrol in die Christiaan Olwagen-drama Poppie Nongena.

Die benoemings vir die 15de Safta-toekenningsgeleentheid is Donderdag deur die Nasionale Rolprent-en-video-stigting (NFVF) bekend gemaak.

Die M-Net-reekse Legacy en The River is met 12 benoemings elk op How to Ruin Christmas: The Wedding se hakke, gevolg deur Still Breathing met tien benoemings.

Legacy en The River gaan onder meer in die kategorie vir telenovelles toutrek om die pryse vir beste telenovelle, beste redigering, beste kinematografie, beste kostuums, beste aktrise (Mary-Anne Barlow in Legacy en Sindi Dlathu in The River) en beste akteur (Dawid Minnaar in Legacy en Presley Chweneyagae in The River). Die veteraan Michelle Botes is ook vir haar ondersteunende rol in Legacy benoem.

Die plaaslike Netflix-reeks ‘How to Ruin Christmas: The Wedding’ het 13 Safta-benoemings gekry, die meeste van al die benoemdes. Foto: Netflix

Afrikaanse sepieliefhebbers sal ook verheug wees om te verneem dat 7de Laan drie benoemings gekry het, Arendsvlei vyf, Binnelanders vier, Getroud met rugby drie en Suidooster drie. 7de Laan, Rhythm City en Scandal! gaan om die prys vir beste sepie meeding, terwyl Gomora, Legacy en The River teen mekaar te staan kom in die kategorie vir beste telenovela.

Die rolprent Toorbos, wat Suid-Afrika se inskrywing vir vanjaar se Oscars in die kategorie vir beste internasionale rolprent was, is met nege benoemings die voorloper onder al die rolprente. Die rolprent het egter nié ’n benoeming vir beste rolprent of beste regisseur (aan René van Rooyen) by die Saftas losgeslaan nie.

Van Rooyen het wel ’n benoeming vir beste draaiboek gekry en gaan in dié kategorie teen Louw Venter (Stam) en Lwazi Mvusi (Seriously Single) meeding. Elani Dekker en Ira Blanckenberg is ook onderskeidelik as beste aktrise en beste byspeler vir hul spel in Toorbos benoem.

Van die ander rolprente wat met meer as vyf benoemings spog, sluit in Riding with Sugar (sewe), Stam (sewe) en Griekwastad (ses). Dié drie rolprente gaan om die prys vir beste rolprent toutrek. In die kategorie vir rolprentregisseurs gaan Venter, Sunu Gonera (Riding with Sugar) en Jenna Bass (Flatland) sake uitspook.

Die publiek sal vanjaar in twee kategorieë vir hul gunsteling kan stem: beste TV-aanbieder en beste TV-sepie of -telenovelle.

Devi Sankaree Govender (The Devi Show), Dineo Ranaka (Yimlo), Entle Bizana (Hectic on 3), Katchie Nzama (Come Again), Katlego Maboe (Tropika Island of Treasure Curaçao), Palesa Tembe (Afternoon Express) en Waldimar Pelser (KN Verslag in gesprek) kan stemme in die eersgenoemde kategorie werf.

Waldimar Pelser

Die TV-reekse wat om die gehoorprys in aanmerking kom, is 7de Laan, Arendsvlei, Binnelanders, Durban Gen, Getroud met rugby, Gomora, Imbewu, Isibaya, Isono, Legacy, Lithapo, Rhythm City, Scandal!, Skeem Saam, Suidooster, The Queen, The River en Uzalo.

Die Saftas word vanjaar op 22 Mei uitgedeel, maar die formaat van die prysuitdeling is nog nie bekend nie.

Besoek www.nfvf.co.za/home/index.php?ipkContentID=292 vir ’n volledige benoemingslys.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.