Die SAUK gaan aanstaande jaar sy eie videostromingsdiens bekendstel.
Dit kom op dieselfde tydstip dat die openbare uitsaaier die moontlikheid oorweeg om selfs wetgewing te wysig om maatskappye soos DStv en Netflix Suid-Afrika te dwing om hul databasisse te gebruik om TV-lisensiegeld van hul kliënte te verhaal.
Net sowat ’n derde van huishoudings met televisiestelle in Suid-Afrika betaal hul jaarlikse lisensiegeld van R265 aan die openbare uitsaaier.
Miljoene Suid-Afrikaners kyk of luister nie meer na enige inhoud van die SAUK nie terwyl ’n toenemende getal mense na digitale platforms gemigreer het om daar na video’s te kyk.
Mense gebruik skootrekenaars en mobiele toestelle om na YouTube te kyk of teken in op betaaltelevisiedienste soos MultiChoice (DStv), China se StarTimes (StarSat) of plaaslike en internasionale maatskappye soos Netflix, Amazon Prime Video, Vodacom’s Video Play, Apple TV +, VIU of Showmax.
Die SAUK en die departement van kommunikasie en digitale tegnologieë wil hê dat verbruikers wat byvoorbeeld na Netflix SA op ’n tablet, DStv op ’n skootrekenaar of na StarSat op hul selfoon kyk, steeds lisensiegeld betaal, hoewel dié dienste nie enige van hul inhoud wys nie.
Met ’n groter getal plaaslike en internasionale dienste wat moontlik in Suid-Afrika van stapel gestuur word, sal verpligte lisensiegeld ’n kontantinspuiting van miljoene rand vir die sukkelende openbare uitsaaier beteken.
Die SAUK se eie stromingsdiens gaan glo op dieselfde wyse as sy nuus-app, wat onlangs bekend gestel is, werk.
Mmoni Seapolelo, SAUK-woordvoerder, het Donderdag bevestig dat die openbare uitsaaier van plan is om sy eie video- en klankstroomdienste in 2021 van stapel te stuur, maar kon nie verdere besonderhede bekend maak nie “weens die kommersiële sensitiwiteit van die inligting”.