Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Schalk: Ek doen ‘stand-up’, ek ken nie grappies nie

Om deel te wees van iets wat Afrikaanse televisie help cool maak, is vir die komediant Schalk Bezuidenhout baie cool.

Die 26-jarige Bezuidenhout, ook ’n televisieaanbieder, akteur, seremoniemeester en skrywer, sê die “mokumentêr” Hotel het gehelp om dit te doen.

Schalk Bezuidenhout Foto: Conrad Bornman

“Ná die eerste helfte van die eerste reeks van Hotel en nadat ek al die negatiewe kommentaar gelees het, het ek gedink ‘oukei, wel ons het nou maar probeer om hierdie mokumentêr te maak, maar mense is nie reg daarvoor nie of verstaan nie die styl nie’.

“Ek het so half aanvaar ons gaan definitief nie weer hiervan doen nie. In September skiet ons nou aan die derde reeks en Danny (sy karakter) is terug.

“Toe ek op skool was, was kykNET nie iets waaroor jy gepraat het nie. kykNET was iets wat jou ouers gekyk het. Daar is nou verskriklik baie skoolkinders en studente wat dit kyk. Dis fantasties.

“Ek het een keer ’n vertoning vir ’n koshuis by Tuks gedoen toe ’n student vir my kom sê daar is nie ’n student in Pretoria wat nie Hotel kyk nie.

“Dis vir my wonderlik dat Afrikaans weer cool kan wees. Vroeër het ons dit met Afrikaanse musiek gehad, waar Fokofpolisiekar en later Die Heuwels Fantasties grense verskuif het. Ons is nou op ’n punt waar Afrikaanse televisie baie cool is.”

Bezuidenhout, wie se loopbaan as ’n skerpskertser begin het, sê al die ander werk wat sedertdien gevolg het, het daaruit gespruit.

“Bennie Fourie, een van die skrywers van Hotel, het ’n vertoning van my gekyk en my daar ontdek. Dieselfde met Christiaan Olwagen (skrywer en regisseur van die fliek Kanarie, wat later uitgereik word). Dis my eerste ernstige rol wat ek speel en my snor is weg en my hare kort gesny.”

Hy het Die kliek op Via aangebied en was onlangs die aanbieder van Die ware naarheid, ’n satiriese nuusprogram wat hy erken omstredenheid veroorsaak het.

“Ons sal maar moet sien of daar ’n tweede reeks gaan kom. Dit was iets nuuts, daar was nog nie regtig voorheen so iets op Afrikaanse televisie nie. Ons het nie doekies omgedraai wanneer ons iets van mense gesê het nie. Dit was aan die begin baie kontroversieel. Ek lees kompulsief mense se kommentaar op sosiale media.”

Dis vir my wonderlik dat Afrikaans weer cool kan wees. Vroeër het ons dit met Afrikaanse musiek gehad, waar Fokofpolisiekar en later Die Heuwels Fantasties grense verskuif het.

Dra nie truie om te vertoon

’n Handgebreide, kleurvolle woltrui uit die 1980’s is iets wat Bezuidenhout baie nostalgies maak.

“Ek kan nie ’n trui weggooi nie. Dis so selde dat ’n mens ’n nice trui kry.

“My liefde vir truie het sy ontstaan in my eerste jaar op universiteit (Universiteit van Kaapstad) gehad toe ek by ’n tweedehandse klerewinkel ’n trui gekoop het. Dit het tot baie kommentaar gelei en ek het besef hierdie jersey maak ’n impak. Ek het regtigwaar ook daarvan begin hou om dit te dra. Dis vir my mooi.

“Sonder dat ek dit beplan het, het dit ’n ding geword. Ek het gedink mense sal my as die ou met die snor en die hare begin ken. Nou is dit ‘o, jy is die ou met die truitjies’.

“Mense glo my nie, maar ek dra hierdie truie as alledaagse kledingstukke en nie net vir onderhoude of tydens optredes nie. Dit het ’n stokperdjie geword om nice ou truie te versamel. Die spesiaalste is as jy kan sien iemand het dit met die hand gebrei.

Sy werk as televisieaanbieder, akteur, skrywer en seremoniemeester was als vanweë skerpskertsery, sê Schalk Bezuidenhout. Foto: Facebook

“Ek weet nie hoeveel van hulle ek het nie. Miskien so tussen 20 en 30. Hulle is verspreid tussen my blyplek in die Kaap, by my meisie in Linden en my ouers in Kempton Park. Dit raak net meer en meer. Ek het selfs een met my gesig op wat ’n fan spesiaal vir my gemaak het. Ek het verwag dit gaan k*k lyk. Min het ek geweet sy het ’n boetiek en kan behoorlik klere maak. Dit was so goed gedoen, ek dra dit skaars, dis só ’n spesiale trui.”

Lewe in boek vervat

Bezuidenhout het onlangs die boek Truitjie roer my nie: Oor Kempton en ander k-woorde uitgegee, wat hy saam met Erns Grundling, skrywer, joernalis en sy agent, geskryf het.

“Ek kry so baie vrae oor die truie, die stand-up-komedie en my grootwordjare. Die boek beantwoord dit. Dis wel nie ’n memoire soos ek wat nou terugkyk op my loopbaan nie. Ek was geïnspireerd deur Trevor Noah se boek.

“My boek het op die ou einde, sonder dat ek dit so beplan het, ’n baie persoonlike draai gevat. ’n Lang liefdesverhouding is beëindig terwyl ek dit geskryf het. Ek het gevoel ek moet dit ook in die boek deel. Ek probeer in die boek deel wie en wat ek agter geslote deure is.”

Hy sê mense vra hom gereeld om ’n grappie te vertel.

“Ek dink baie mense besef nie komediante vertel nie grappies nie. Ons doen materiaal. Stand-up-materiaal en ’n grappie is twee verskillende goed. Wat ek doen, is om ’n persoonlike storie te vertel rondom iets wat met my gebeur het. Ek ken nie grappies nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.