Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Schutte en sy kwinkslae skuif nou Australië toe

Jan Harm Schutte (38), die spitsvondige kykNET-aanbieder, het Saterdagoggend ná 12 jaar vir die heel laaste keer van die Ontbytsake-stel af gestap.

Jan Harm Schutte sit vir oulaas reg vir grimering voordat hy vir die laaste keer voor die Ontbytsake-kameras ingeskuif het. Foto: Inge Kühne

Gisteraand om 19:00 het hy, sy vrou, Kim, en hul twee dogters, Emma (7) en Chloe (4), na Australië vertrek waar hy hom as televisieaanbieder by Vox Sport gaan aansluit.

Schutte was ook ’n senior vervaardiger en aanbieder by SuperSport Internasionaal.

Hy begin reeds Woensdag in sy nuwe werk.

Die gesin gaan vir eers in Sydney in ’n gastehuis woon terwyl hulle na ’n huurplek naby Schutte se werk soek.

Kykers van kyk­NET het hom 12 jaar gelede leer ken op Ontbytsake as aanbieder van die weer en landbounuus. Hy was veral geliefd danksy sy vlymskerp kwinkslae wanneer hy saam met die anker-aanbieder Dawie Roodt op die stel was.

Schutte sê hulle is aan die een kant baie opgewonde oor die skuif, maar ook hartseer om vir familie en vriende totsiens te sê.

“Ons was nou al in Australië, en Sydney is ’n goeie stad. En ek is passievol oor my nuwe werk.”

Hy sê hul plan is om burgerskap in Australië te kry, maar hulle sluit nie die idee uit om weer eendag na Suid-Afrika terug te keer nie.

Roodt sê Schutte is een van die wonderlikste mense wat hy ken.

“In die 12 jaar wat ons saamgewerk het was daar nooit enige konflik of spanning nie.”

Hy het Schutte geloof vir sy vinnige reaksies. “Die goed wat hy kwytgeraak het . . . hy kon so vinnig uit ’n gat kom. Dis ’n groot talent.”

Roodt sê hoewel dit jammer is om so ’n groot talent te verloor, is hy baie bly vir Schutte en sy gesin.

Schutte, gebore en getoë in Randburg, het BSc by die destydse Randse Afrikaanse Universiteit gestudeer, waarna hy as handelsmerkbemarker by SAB begin werk het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.