Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Showmax bied ses van die beste

Oktober is reeds op die hond se stert, tog het Showmax ’n aanbod wat nog voor die 31ste van die maand beskikbaar gestel word: Ses van die beste. Dit sluit onder meer Trackers, Dominee Tienie, Zog en Ellen Pakkies in.

James Gracie, beter bekend as James Alexander, vertolk Lemmer, ’n voormalige lid van die spesiale magte in Trackers.

Trackers

Dié fliek is tans groot nuus. Die Afrikaanse misdaadskrywer Deon Meyer het self omgesien na die draaiboek wat op sy boek Spoor gegrond is.

In die prent kruis uiteenlopende mense se paaie wanneer hulle by aardskuddende gebeure betrokke raak. ’n Voormalige lid van die spesiale magte beland in ’n lokval wanneer hy die verskuiwing van swartrenosters ondersoek. Smokkelaars, sluipmoordenaars, politieke intrige en romanse met akteurs soos James Gracie (in Suid-Afrika bekend as James Alexander), Deon Lotz, Rolanda Marais, Sandi Schultz, Thapelo Makoena, asook die Britse akteur Ed Stoppard sal kykers aan hul stoele laat klou. Die regisseur is Jyri Kähönen.

Dié minireeks van ses episodes is in samewerking met HBO, Cinemax en Duitsland se ZDF vervaardig.

Klik om te kyk.

Frank Opperman as ds. Tienie Benade.

Dominee Tienie

Frank Opperman lewer een van sy kragtigste vertolkings in die fliek waarin hy aanskou hoe die gemeente krimp en sy geloof kwyn. Hy bevraagteken sy bestaan, sy doel op aarde en selfs wie hy is.

Ondersteunende akteurs is Henriëtta Gryffenberg, Deon Lotz, Thapelo Mokoena, Carel Nel en Paul Eilers.

Dana Snyman is die skrywer en Sallas de Jager die regisseur en vervaardiger.

Klik om te kyk.

Axis Mundi

Dié kortprent gaan oor ’n TV-aanbieder in ’n rolstoel wat ’n selfverklaarde geneser uitnooi om haar op ’n regstreekse uitsending weer te laat loop, wat hy beweer hy kan doen.

Dit word beskryf as ’n meesterklas in toneelspel deur Antoinette Louw en Deon Lotz.

Axis Mundi is verlede jaar op kykNET se Silwerskermfees vir die beste draaiboek en kortprent van 22 minute en Matthew Jankes en Sean Steinberg as beste regisseur aangewys.

Jill Levenberg as Ellen Pakkies en haar seun Abie, vertolk deur Jarrid Geduld.

Ellen: Die storie van Ellen Pakkies

Opslae is gemaak toe Ellen Pakkies se tikverslaafde seun, Abie Pakkies, haar tot moord gedryf het, waarna sy ’n opgeskorte vonnis gekry het en gemeenskapswerk moes doen. Dié aangrypende ware verhaal ontvou hier.

Jarrid Geduld as Abie, Jill Levenberg as Ellen en die regisseur Daryne Joshua is bekroon.

Zog

Zog is ’n kort animasieprent oor ’n ywerige maar onbeholpe leerling in draakskool. ’n Gawe jong meisie lek sy wonde, maar kan sy hom met sy moeilikste taak help – om ’n prinses te vang? Zog het die prys vir beste animasie op die Sjanghai Internasionale TV-fees gewen en die gehoorprys op die kinderffliekfees in New York.

Die stemkunstenaars sluit in Kit Harrington, sir Lenny Henry en Tracey Ullman. Kaapstad se Triggerfish is die vervaardiger.

Someone to Blame

Dié dokumentêr handel oor die dood van die anti-apartheidsaktivis Ahmed Timol, wat homself nie om die lewe gebring het soos die polisie in 1972 beweer het nie. Die hooggeregshof in Johannesburg het bevind die nasionale vervolgingsgesag mag João Rodrigues, destydse apartheidspolisieman en nou reeds 80, vir Timol se moord vervolg.

Someone to Blame is op die Jozi- en die Zanzibar- Internasionale Rolprentfees as beste dokumentêr bekroon.

Showmax vertoon ook Six to Six oor die lewe van forensiese patoloë in die Soutrivier-lykshuis, die wetenskapfiksie-kortprent Siklus en The Republic, waarin Florence Masebe die rol van Suid-Afrika se eerste vrouepresident vertolk.

Meer oor:  Frank Opperman  |  Trackers  |  Ellen Pakkies  |  Dominee Tienie  |  Tv  |  Deon Meyer  |  Axis Mundi  |  Jill Levenberg  |  Showmax
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.