Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Showmax maak ‘Devilsdorp’ oor Krugersdorp-moorde

Die redes agter die Krugersdorp-afspraakmoorde en die seer wat dit aan die slagoffers se familielede besorg het, is die fokus van Devilsdorp, Showmax se eerste ware misdaaddrama.

Die minireeks bestaande uit vier episodes is vanaf 29 Julie te sien.

Showmax het vantevore ware misdaaddramas gelisensieer, soos ’n dokumentêr oor Brett Kebble se moord en die VIA-reeks Huisgenoot: Ware lewensdramas, maar dit is die eerste keer dat die stromingsdiens ’n program in dié genre vervaardig.

Die gemeenskap van Krugersdorp aan die Wes-Rand is van 2012 tot 2016 geruk deur ’n reeks moorde deur die kultusgroep Electus per Deus (Uitverkies deur God).

Die groep, onder leiding van Cecilia Steyn, wat haarself as Satan se bruid beskryf het, het 11 mense vermoor.

“Ek het in ’n onderhoud gehoor iemand sê jy sal dink dit is iets uit ’n Hollywood-fliek,” sê David Enright, die regisseur.

Die Krugersdorp-polisiekantoor. ‘Devilsdorp’, Showmax se eerste ware misdaaddrama, is van 29 Julie af te sien. Foto: IdeaCandy/ Showmax

“Maar die waarheid is vreemder as fiksie. Ons het van meet af aan besef daar is baie inligting daarbuite; baie diepte, maar ook vrae. Ons het gevoel daar word nie baie aandag gegee aan die slagoffers en hul familielede nie.”

Hulle is genader, maar sommige was huiwerig om deel te neem.

Die reeks is deur 18 maande van navorsing voorafgegaan en word deur IdeaCandy vervaardig.

“Daar is geweldig baie rou en seer weens hierdie gebeure. Dit het ’n groot invloed gehad en baie mense in die Krugersdorp-gemeenskap se lewens sal nooit weer dieselfde wees nie. Ons wou dit eties en met respek benader.”

Veral sakelui was destyds bang om afsprake te reël, want dit kon tot hul dood lei.

“Dit is grusame gebeure, maar die waarheid,” sê Enright.

‘Devilsdorp’ handel oor die Krugersdorp-afspraakmoorde. Foto: IdeaCandy/ Showmax

“Die slagoffers se familielede deel hul ervarings. Daar was baie lyding. Ons wil in die reeks ’n soort geregtigheid aan hulle bring.”

Verskeie mense neem deel aan die program en Jana Marx, indiepteverslaggewer van Netwerk24 en skrywer van die boek Afspraak met moord: In die kake van die Krugersdorp-kultus, vertel die storie.

Daar volg verskeie onderhoude met ander mense, maar kort-kort verskyn Marx weer om die storie verder te vertel.

Die redes agter die Krugersdorp-afspraakmoorde en die seer wat dit aan die slagoffers se familielede besorg het, is die fokus van ‘Devilsdorp’. Foto: IdeaCandy/ Showmax

“Elke episode duur sowat 60 minute,” sê Enright. “Die storie is eintlik so diep dat kykers maar hul notaboekies byderhand moet hou. Die genre fassineer mense. Daar is soveel skok aan die begin van die reeks en daarna sink dit in.

“Dit is ’n baie sensitiewe onderwerp. Die gebeure het baie hartseer veroorsaak, maar deur daaroor te praat, sal dit hopelik aan die slagoffers se familielede ’n katarsis meebring.”

Devilsdorp het ’n ouderdomsbeperking van 16.

Meer oor:  Showmax  |  Jana Marx  |  Krugersdorp  |  Televisie  |  Krugersdorp-Afspraakmoorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.