Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Spanne groet emosioneel ná maande in ‘Kwarantyn’

Die Le Roux- en Scheepers-familie van kykNET se werklikheidsreeks het mekaar Woensdag skuins na middernag vir oulaas in die straat buite hul Kwarantyn-huise gegroet voordat hulle na hul “normale” lewens teruggekeer het.

Familielede van #SpanLeRoux Donderdag uiteindelik weer by die huis ná 50 dae. Van links is Andriaan Briel (Lisa se verloofde), Lisa le Roux (die dogter), Braam le Roux (die pa) en Manie le Roux (die seun en ‘skoonboetie’). Die ander familielid, Heinrich Olwage (die nefie), was nie teenwoordig nie.

Volgens Braam le Roux (50), die pa in #SpanLeRoux, het die twee families eers saam gelag en gehuil en mekaar vasgehou.

“Dit was ’n baie emosionele koebaai en ’n braai (met die Scheeperse) is beslis in ons planne,” sê hy.

Austin Scheepers (19), die seun en nefie in #SpanScheepers, sê: “Ons was twee maande saam met hulle en het obviously ’n liefde en vriendskappe gebou. Dit sal nie reg wees om dit net daar te los nie.”

Die twee families en van hul naasbestaandes het 50 dae lank in twee aangrensende huise teen mekaar meegeding terwyl hulle “in kwarantyn” was vir die kontantprys van R250 000.

Die program is 24 uur per dag regstreeks op DStv-kanaal 149 uitgesaai.

Teen Donderdagmiddag het dit nog nie by die Le Roux’s ingesink dat hulle die wenners van Kwarantyn is nie.

Ná die groot aankondiging Woensdagaand het hulle eers omstreeks 05:00 in die bed geklim. Jana le Roux (49), ma van die Le Roux-familie, het hulle met ballonne en eetgoed verras toe hulle by die huis instap. Sy het ook aanvanklik aan die program deelgeneem.

#SpanLeRoux met hul tjek van R250 000 nadat hulle Woensdagaand as die wenners van Kwarantyn aangekondig is.

Die reeks is vroeër in omstredenheid gedompel nadat Jana die k-woord op televisie gebruik het en gevolglik gediskwalifiseer is. Dit volg nadat die gesinne een aand aan die vasvraspeletjie 30 Seconds deelgeneem het. Die Scheepers-gesin het die speletjie gewen en Jana het hul loesing as ’n “k*****pak” beskryf.

Ferdinand Rabie, wat die rol van Die Opsigter vertolk het, het destyds in ’n video gesê hy het geen ander keuse as om haar te diskwalifiseer nie.

“Die belangrikste reël van Kwarantyn is dat ons geen diskriminasie of rassistiese opmerkings duld nie. Hierdie reël is gisteraand gebreek. Dit laat my geen (ander) keuse nie as om Jana te diskwalifiseer,” het Rabie gesê.

Die res van die reeks moes hulle met net vyf lede klaarkom, waar die ander familie uit ses lede bestaan het.

Daardie oomblik gaan vir altyd in #SpanLeRoux se gedagtes spook, sê Braam wat met Jana getroud is.

“In ’n oogwink het alles verander en dit was vir ons ’n baie moeilike tyd. As haar man was dit die eerste keer dat ek daardie woord uit haar mond hoor kom het, maar dit is gesê en ons sal dit nooit kan terugvat nie.

“Suid-Afrikaners moet hieruit leer. Ons familie gaan dit saam met ons dra, maar ons is daartoe verbind om te verseker dat ons ’n verskil in die land maak.”

Die Scheeperse het nie verwag dat Jana so iets sou sê nie en was dus geskok, sê Austin.

“Sy het om verskoning gevra en ons het haar vergewe op daai oomblik. Ons het gemengde gevoelens daaroor, maar ons beweeg aan.”

#SpanScheepers het met R156 000 huis toe gegaan.

Intussen is ’n groep genaamd ‘Le Roux Familie Ondersteuners’ op Facebook vir die familie geskep. Hoewel #SpanLeRoux bewus is van die groep, het hulle geen inligting daaroor nie.

Kykers het ná Jana se diskwalifisering op sosiale media gesê hulle voel Pamela ‘Pam’ Okkers (53), die tannie van die Scheepers-familie, moet dieselfde straf as Jana kry.

Pam het in ’n regstreekse uitsending van die program tydens ’n kaartspeletjie vir lede van haar familie gesê: “Hei jou m***”.

Die voorval het plaasgevind voor dié waarin Jana betrokke was.

Karin Meiring, direkteur van M-Net se kykNET-kanale, het vroeër gesê Pam was nie rassisties nie.

Ons het nie ’n probleem met die besluite wat geneem is nie. Dit verontskuldig Jana nie.

“Pam se taalgebruik, gemik op die jonger vroue in hul span, was beledigend, maar binne die kulturele konteks nie rassisties nie.”

Pam glo nie sy was rassisties toe sy die m-woord gebruik het nie.

“Ons beskou dit nie as ’n rassistiese woord nie en dit was nie daarop gemik om rassisties te wees nie,” sê sy.

Die Scheepers-span het verduidelik dat dit ’n naam is wat die bruin gemeenskap onder familielede gebruik.

#SpanLeRoux was nie “heeltemal bewus” van die voorval terwyl hulle in die Kwarantyn-huis was nie, sê Braam.

“Ons het nie ’n probleem met die besluite wat geneem is nie. Dit verontskuldig Jana nie.”

#SpanScheepers het nie met leë hande huis toe gegaan nie. Die kunswerke wat die afgelope week deur die twee families gemaak is, is op veiling geplaas en R156 000 is só bymekaar gemaak wat aan hulle geskenk is.

Dan het die musikant Emo Adams aangebied om Austin te help om sy eerste aanlyn optrede te vervaardig en sal hom ook verder met ’n moontlike sangloopbaan ondersteun.

“Ons was aanvanklik teleurgesteld (dat ons nie gewen het nie), maar ons weet ons het ons beste gegee en ons het baie meer uit die reeks gekry. Die mense het ons gelove en ons het so baie fans gebou – dit is meer as genoeg,” sê Austin.

Meer oor:  Kwarantyn  |  Tv  |  Televisiereeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.