Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Speel speurder saam met Bolhuis
Mike Bolhuis

Met rou eerlikheid én humor gaan die privaat speurder Mike Bolhuis vir kykers sy ander kant wys in die nuwe kykNET-reeks Bolhuis.

In dié reeks, vervaardig deur die omroeper en aanbieder Rian van Heerden, vat Bolhuis weer die spoor na sommige misdaadtonele en roer hy aktuele onderwerpe soos polisiebekwaamheid en dwelmmuile aan.

“Die ding van Mike,” sê Van Heerden, “is hy draai nie doekies om nie. He speaks his mind. Jy het nog nie so iets op televisie gesien nie. Dit sal jou raak. Hy praat op ’n stadium baie openhartig oor die dood van sy broer.”

Die reeks begin in Oktober op kykNET en kyk na sake soos die Delmas-moorde waar ’n babaseuntjie en sy kinderoppasser vermoor is en die Knysna-moorde waarin drie mense gesterf het in wat na die werk van ’n reeksmoordenaar lyk.

“Mike het honderde sake in sy loopbaan hanteer,” sê Van Heerden.

“Ons het eerstens saam gaan sit en dink watter temas ons wil hanteer. Toe begin die harde werk; dit het baie tyd en navorsing geverg. Daar was hope lêers.”

Daar was die finansiële konsultant Willie Steenkamp, hoof van ’n internasionale beleggingsmaatskappy, Wurban, wat verdwyn het nadat hy beleggers winste belowe het; en Ralph Haynes, “Godfather van die Wes-Rand”, wat in 2011 verdwyn het nadat hy in ’n helikopter by die Kitty Hawk-lughawe in die ooste van Pretoria opgestyg het.

Van Heerden het minstens vier keer voorheen met Bolhuis onderhoude gevoer, wat die joernaalprogram Voorblad en sy geselsprogram Rian, albei op kykNET, insluit.

Hulle wil met die reeks ook nuwe inligting oor hierdie sake na vore bring.

“Daar is soveel inligting daar buite. Oor hoe om jouself te beskerm, hoe om nie dieselfde foute te maak nie. En wat het intussen gebeur ná daardie sake? En wat kan ’n mens uit hierdie sake leer? ’n Mens wil praat met die partye aan albei kante van die saak.

Rian van Heerden

Soms was dit moeilik, want party mense wou nie praat nie; ander is dalk oorsee, en dan moes ’n mens weer ’n ander roete kies.”

Hulle moes dikwels weer die misdaadtonele gaan besoek, asook tonele waar slagoffers gevind is.

“Ons gebruik argiefmateriaal en sommige gebeure word herskep.”

Van Heerden het die onderhoude behartig, maar hy verskyn nie self in die reeks nie. Sy stem word wel gehoor.

“Jy sal baie nuwe dinge van Mike leer. Ek is bevoorreg dat hy my in sy vertroue geneem het.”

* Bolhuis begin in Oktober. Die finale uitsaaidatum moet nog bevestig word.

Meer oor:  Kyknet  |  Mike Bolhuis  |  Rian Van Heerden  |  Misdaad  |  Televisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.