Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Staal jou vir intense reeks wat jou ruk

Patrick Melrose ****

Met Benedict Cumberbatch en Hugo Weav­ing.

Regisseur: Edward Berger.

Jy moet jou wapenrusting vir hierdie uitmergelende reeks betyds aantrek, want jy word, veral met flink redigering, met senutergende beelde gepeper. Veral die eerste episode beweeg verby televisie: dit word rolprent en skop jou met mening op gevoelige plekke. Dit vertel die semi-biografiese verhaal van Patrick Melrose (’n skitterende Benedict Cumberbatch) wat as kind aan onmenslike mishandeling blootgestel is. Hy raak hierna ’n alkoholis en dwelmslaaf. Die tonele van dwelmmisbruik word met verwoestende realisme gewys en daar is emosionele oomblikke wat min kykers onaangeraak sal laat. Die reeks lewer in die proses vernietigende kritiek op die verwaande Britse klassestelsel.

Die verlede word met 1982, wanneer dié drama afspeel, gejukstaponeer, en gaandeweg word dit duidelik hoe selftevrede en verveeld rykes was, en hul kinders verwaarloos het. Enigiemand wat nie in hul kringe beweeg het nie, is tot die uiterste toe verneder.

Maar dit vra ook: Wanneer trauma plaasvind, wie is skuldig? Slegs die onmenslike oortreder of diegene wat van die vergrype bewus was, maar niks gesê het nie?

Soveel weelde, soveel natuurskoon, so ’n verrottende hart. En in dié opsig kom prinses Margaret ook nie ongeskonde uit die reeks nie!

Wat dit nog meer ontsenuend maak, is die vertellerstem in episode een. Spitsvondige kommentaar, gekontrasteer met ’n siniese waarneming van Melrose se siening van sy eie dilemma en hoe hy homself ruïneer, smokkel met jou kop.

Wees voorbereid: Dit is nie noodwendig ’n vraatkyk-reeks nie, daarvoor is dit te intens. Maar dit is uitstekend.

  • Op Showmax – vyf episodes.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.