Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Staunton statige koningin in laaste 2 reekse van ‘The Crown’
Imelda Staunton in die rol van koningin Elizabeth in die nuwe seisoen van ‘The Crown’. Dit is die eerste foto uit die nuwe reeks wat deur Netflix uitgereik is. Foto: Netflix

Die aktrise Imelda Staunton (65) sal in die vyfde en voorlaaste reeks van The Crown as koningin Elizabeth te sien wees.

Sy neem die rol as haar koninklike hoogheid in die gewilde Netflix-reeks oor die Britse koningsgesin by Olivia Colman oor. Claire Foy het in die eerste twee seisoene die septer geswaai, waarna Colman haar vir die derde en vierde reeks opgevolg het.

Foy het ’n Emmy gewen vir haar vertolking van die matriarg van die koninklike gesin en op haar beurt het Colman ’n Golden Globe ingepalm.

Die reeks het in sy vier seisoene reeds 94 pryse verower, nie net vir toneelspel – afsonderlik en ensemble – nie, maar ook vir onder meer kinematografie, kostuums, regie en produksie-ontwerp.

Die vyfde seisoen hervat die verhaallyn iewers in die jare 90 en gaan drie egskeidings vervat, dié van prins Charles en lady Diana, prins Andrew en Sarah Ferguson en prinses Anne en Mark.

Elizabeth Debicki gaan die rol van prinses Diana in ‘The Crown’ vertolk. Foto: Getty Images

Ander nuus oor die rolverdeling is dat Dominic West die rol van prins Charles sal speel, Elizabeth Debicki is prinses Diana, en Jonathan Pryce is prins Philip, koningin Elizabeth se wederhelf wat vroeër vanjaar oorlede is.

Die gewilde reeks het in 2016 begin en kondig elke twee jaar ’n splinternuwe rolverdeling aan.

Staunton is ’n deurwinterde verhoogaktrise en sangeres wat aan die Royal Academy of Dramatic Art opgelei is – ’n vooraanstaande opleidingsinstansie vir die verhoog, wat talle ster-akteurs opgelewer het.

Sy het die gesogte Laurence Olivier-toneelprys al vier keer gewen.

Jonathan Pryce sal as prins Philip in ‘The Crown’ te sien wees. Foto: Getty Images

Sy was in rolprente soos Much Ado About Nothing (1993), Sense and Sensibility (1995), Shakespeare in Love (1998) en Vera Drake (2004) te sien. Die laasgenoemde naamrol as die Britse kampvegter vir aborsies het aan haar ’n Bafta en die Volpi-beker by die Venesiese rolprentfees vir beste aktrise besorg. Aanhangers van die Harry Potter-towerflieks sal haar onthou as die bose halfbloedheks, Dolores Umbridge.

Die skepper van die veelbekroonde The Crown-reeks is Peter Morgan. Hoewel daar aanvanklik net vyf reekse beplan is, het Morgan bekend gemaak dat daar nou ses gaan wees. Verfilming aan die voorlaaste reeks het reeds in Julie in ’n ateljee in Londen begin.

Die getroue kykers sal op hete kole wees tot einde volgende jaar om al die bekende, dog fassinerende intriges te beleef. – Saamgestel deur Laetitia

Dominic West vertolk die rol van prins Charles in die vyfde en sesde reeks van ‘The Crown’. Foto: Getty images

Pople uit berigte in Deadline, Variety, Harpers Bazaar en die webblad Imdb.

Meer oor:  Imelda Staunton  |  Netflix  |  The Crown
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.