Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
‘Swartwater’ op SABC 2 is nou rustiger

“Die storie is nou rustiger,” sê Hélène Truter, skrywer van die SABC 2-drama Swartwater, oor die derde reeks wat tans verfilm word.

Dit word na verwagting vanaf Januarie uitgesaai.

Antoinette Louw op die stel van die SABC 2-drama ‘Swartwater’ se derde reeks.

Truter, wat ook ’n rol hierin vertolk, reken die vorige reeks was te swaar.

“Ek kan dit nou agterna sê; jy weet, mensehandel en ’n vrou wat aan tik verslaaf raak,” sê sy op die stel in Southdale, Johannesburg.

Van die tonele word in Hermanus verfilm.

“In die derde reeks handel die groot spanningslyn oor motorkapings, maar daar is ook ’n pragtige liefdesverhaal. My opdrag van die SAUK was dat dit ligter en korter moet wees. Maar daar is steeds lekker cliffhangers.”

André Odendaal is die regisseur van die reeks wat uit 26 halfuurlange episodes bestaan. Voorheen was dit ’n uur lank.

Swartwater se eerste reeks is in 2014 uitgesaai.

Dit begin met Francois (Louw Venter) wat per ongeluk sy kind doodgeskiet het. Ná die tragedie verhuis hy en sy vrou, Karen, uit die stad na die kusdorp Swartwater.

Aan die einde van die tweede reeks word hy geskiet toe hy sy ander kind wou red.

André Odendaal, regisseur van ‘Swartwater’, in die ateljee.

“En dis eintlik ’n volle sirkel,” sê Truter.

“Hy moes eintlik gesterf het, maar hy verval in ’n koma en is verlam.”

Truter hou daarvan om dinge met die storie te doen wat kykers nie verwag nie.

“Met die opvolgreekse weet jy wie die karakters vertolk en dit beïnvloed hoe of wat jy skryf want jy weet waartoe daardie persoon in staat is. Terselfdertyd skryf jy iets wat dalk buite die akteur se gemaksone is, want ’n goeie akteur hou daarvan om uitgedaag te word.”

Venter sê sy karakter doen iets wat hy nog nooit gedoen het nie – om van vooraf te begin.

“Ek het al baie gewonder wat gebeur as ’n mens se brein verander. Hy word wakker ná ’n jaar in ’n koma met geen geheue nie. En hy is in ’n rolstoel. Hy is amper ’n baba.”

Venter ken Francois se storie, maar Francois is uiteraard onbewus daarvan. Dis vir Venter “hartverskeurend” om Francois so te sien.

“Die akteur se uitdaging is natuurlik altyd om nie sy karakter te oordeel nie. Uit ’n persoonlike perspektief sien ek hoe hy weens sy situasie al hierdie keuses maak. Dis moeilik om te sien. Jy kan hom nie oordeel nie, maar jy kan beslis voel dat daar gevaar in so ’n situasie is.”

Hélène Truter en Simoné Pretorius is in ‘Swartwater’ te sien.

In die vorige reeks was Karen (vertolk deur Antoinette Louw) aan tik verslaaf.

“Hierdie keer is dit nie so storm en drang nie,” sê Louw.

“Sy maak Francois se kind groot wat hy by ’n ander vrou het. Dan kom daar ’n man in haar lewe. Ek is nogal opgewonde daaroor. Sy vind ’n bietjie liefde, miskien nie . . . dis bietjie van ’n rollercoaster. Dis so lekker om haar te speel.”

Gerben Kamper vertolk die rol van Buks.

Kamper, wat voorheen aan die department van drama aan die Universiteit van die Vrystaat verbonde was, het vir jare nie op televisie verskyn nie.

Maar sy terugkeer het onregstreeks uit die teater gespruit.

“Met (die toneelstuk) Nag van Legio het André my in Swartwater gekry. Toe kry dit ’n loop.”

Daarna was hy in die kykNET-reekse Dwaalster en Ekstra Medium.

“My loopbaan het ’n ander koers ingeslaan en nou speel ek weer in Swartwater nadat ek dit twee en half jaar laas gedoen het. ’n Mens kom baie vinnig weer in die karakter in.

“Anders as met teater werk jy hier baie op jou eie. Jy kry jou tekste, gaan daardeur en leer jou woorde. Dan gaan jy op stel en dan is dit die eerste keer wat jy teenoor jou medespelers speel. Ek vind televisiewerk nogal eensaam.”

• Ander spelers sluit in Dorette Potgieter, Vuyelwa Booi, Nazli George, June van Mersch en Simoné Pretorius.

Meer oor:  Sabc2  |  André Odendaal  |  Televisie  |  Swartwater  |  Drama
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.