Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Taliep se seun beïndruk afrigters van ‘The Voice’

Die Suid-Afrikaanse musieklegende wyle Taliep Petersen se seun is nou in die derde seisoen van die sangkompetisie The Voice te sien.

Francois van Coke het nie geweet dat hy Ashur Petersen, die seun van die musieklegende Taliep Petersen, gekies het nie. Foto: M-Net

Ashur Petersen (26) is in Sondagaand se episode deur Francois van Coke gekies om verder aan die kompetisie deel te neem.

Van Coke, ’n Afrikaanse sanger wat bekendheid verwerf het deur die sanggroep Fokofpolisiekar, het nie geweet hy het Taliep se seun gekies om deel van sy span te word nie.

Hy het Petersen slegs op grond van sy sangtalent gekies.

Gedurende die oudisies sit die vier afrigters, Van Coke, Lira, Rikhado Makhado (Riky Rick) en Riana Nel, met hul rûe na die verhoog terwyl die deelnemers sing.

Elke afrigter stel sy eie span saam uit die deelnemers wat hulle gekies het. Gedurende die kompetisie verleen hulle bystand aan deelnemers en help om hul sangtalent te verbeter.

Petersen, ’n Kaapstadse sanger, akteur, teater- en musikale vervaardiger, het die liedjie “24k Magic” van Bruno Mars, die Amerikaanse sanger, gesing. Die sangeres Lira het dié keuse as “dapper” beskryf.

“Dit is ’n moeilike liedjie om in ’n oudisie te doen. Hoekom het jy dit gekies?” het sy vir Petersen gevra.

Ashur Petersen gedurende sy oudisie vir die derde seisoen van The Voice.Foto: Facebook

Bruno Mars is sy nommer-een-rolmodel, het hy geantwoord.

“Ek is dalk nie die beste sanger hier nie, maar ek glo dat ek baie vermaaklikheidswaarde kan bring,” het Petersen bygevoeg.

Lira en Riky Rick, ook albei afrigters, het tydens sy optrede opgestaan en gedans.

Van Coke het vir Petersen gesê: “Jy het die partytjie saam met jou gebring. Ek kon nie jou optrede sien nie, maar jy het uitstekend geklink. Ek staan agter jou.”

Petersen, wat ook die klawerbord, kitaar en tromme bespeel, is tot dusver die jongste mens wat dit kon regkry dat al die kaartjies in die Baxter- en Artscape-teater met sy vertoning Like Father, like Son uitverkoop het. Dit was ’n huldeblyk aan sy pa en hy was toe 20 jaar oud.

“Ek is baie bly om hom in my span te hê. Ek het nie geweet wie dit was nie, maar ek het net gedink die kêrel is baie energiek. Daarom het ek omgedraai en hom gekies. Hy is ’n baie goeie musikant en ek sien daarna uit om met hom te werk en ook om hom beter te leer ken,” het Van Coke Maandag by navraag gesê.

Meer oor:  Francois Van Coke  |  The Voice
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.