Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
#TeamBobby verdedig Craig Lucas ná beledigings
Craig Lucas gooi sy vuiste in die lug nadat hy as die wenner van The Voice South Africa aangewys is.Foto: Skermgreep

Hy is skaars aangewys as die wenner van The Voice South Africa se tweede seisoen of Craig Lucas loop reeds deur onder venynige kritiek.

“Nou het jy nog sulke k*k klere aan,” het een van die finaliste, Fatman (Johan Brümmer), geskerts nadat Lucas sy vuiste as oorwinnaar in die lug gebal het.

Die 24-jarige Lucas, ’n lid van Kahn Morbee se span, het die meeste van die publiek se stemme in die laaste rondte van die reeks gekry en is Sondagaand as die oorwinnaar gekroon.

Gelukwensings het vir hom ingestroom, maar dit het in die sosiale media ook gegons van negatiewe kommentaar van die ander finaliste se ondersteuners.

Die naaswenner van dié gewilde realiteitsreeks, Josh Ansley, het sy aanhangers Maandagoggend gevra om hul “beledigende inskrywings” jeens Lucas te verwyder.

“Dit maak my seer en ek weet my aanhangers is eintlik goedhartige mense,” het Ansley op Facebook geskryf. “As julle regtig vir my lief is, respekteer asseblief my wense en verwyder jul beledigende inskrywings jeens Craig.”

Ansley, wat lid van Bobby van Jaarsveld se span was, se inskrywings is deur Van Jaarsveld se ma, Ronél Brink, en suster, Karlien van Jaarsveld, gedeel.

“Ek kan nie gelukkiger wees as wanneer mense vir mekaar lief is en mekaar opbou nie,” het Karlien saam met ’n skermgreep van Ansley se inskrywing geplaas.

Brink het ook ’n foto van Lucas geplaas met die onderskrif: “My hart (is) seer vir Josh, maar ek besef vanoggend opnuut dat hierdie wen vir Craig bedoel was. Die Groter Plan waarteen NIEMAND kan staan nie. Daarom uit my hart – Baie baie geluk Craig Lucas!”

Ansley sê hy dink Lucas is ’n fenomenale, vars en oorspronklike kunstenaar wat 100% verdien het om te wen. “Geluk, Craig, ek sal altyd ’n aanhanger bly.”

Van die negatiewe kommentaar het gekom van mense wat die proses bevraagteken het nadat die stemmery twee weke gelede gestop is en twee deelnemers wat uitgestem is, die geleentheid gegee is om terug te keer na die program. M-Net het gesê hy is in kennis gestel van beweerde betaalde bemarkingspogings op sommige van die deelnemers se persoonlike sosialemediaplatforms. 

Lani Lombard, M-Net se woordvoerder, het bevestig dat Lucas nie deel was van enige betaalde bemarking van inskrywings in die sosiale media nie. “Craig en Josh was albei die gehoor se gunstelinge van die begin van die kompetisie af en die uitslae van die kompetisie is bepaal deur die hoeveelheid stemme wat hierdie week ontvang is,” sê Lombard. M-Net sal die uitslae van die openbare stemme later vandeesweek bekend maak.

<="" p="">


Meer oor:  Josh Ansley  |  Craig Lucas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.