Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
The Bachelor: Grappies met een, ongemak met die ander
Marisia en Marc tydens ’n vorige ete in die Bosveld.Foto: M-Net

Dit was net grappies en glimlagte tussen Marc Buckner (36) en Bridget Marshall (31) op Donderdagaand se episode van The Bachelor South Africa, terwyl sy afspraak met Marisia van Wyk (24) vol stywe gesprekke en ongemaklike oomblikke was.

Dit het gelyk asof Marc se hart na Bridget se kant toe staan. Hy was gemakliker in haar geselskap terwyl hy en Marisia nog tot op hul laaste afspraak ernstige vrae moes uitklaar.

“Dit is presies hoe ek wil hê my verhouding moet wees,” het Marc gesê op sy laaste uitstappie saam met Bridget voordat hy sy keuse maak.

Die paartjie het ’n romantiese helikopterrit oor die Kapama- private natuurreservaat in Limpopo geneem, en daarna piekniek op ’n berg met ’n asemrowende uitsig gehou. Hulle het gesels, aan mekaar geraak en gepraat oor hoe baie hulle die ervaring geniet en hulself voor mekaar kan wees.

“Hoe meer tyd ek saam met jou deurbring, hoe meer wil ek ’n ‘ons’ hê,” het Marc vir Bridget gesê.

Hy het homself ná die afspraak herhaal en gesê: “As ek Bridget kies, is dit presies hoe ek wil hê ons lewe moet wees.”

Sy wou weet of hy haar dan gereeld in helikopters na mooi piekniekplekke sal vat.

“Ek sal,” het hy gesê.

Marc se toptwee, Marisia (24) en Bridget (31).Foto: M-Net

Hulle het later, ná ’n warm omhelsing, teruggekeer en aandete geniet.

“Jy weet ek wil hê dit moet hou,” het hy vir Bridget gesê. “Hopelik, ja,” het sy geantwoord.

Hulle het albei gesê hulle sien hulself in ’n huwelik.

“Ek dink nie dit gaan oor ’n stuk papier nie. Ek dink dit is ’n belofte aan mekaar. Ek wil trou, ek wil die troue hê met almal daar,” het Bridget gesê.

Daarna kon die twee tyd alleen saam deurbring in ’n tent, weg van die kameras en mikrofone. Marc het op sy afspraak met Marisia hierdie uitnodiging geweier, maar hy en Bridget het gekies om wel ’n paar uur van die alleentyd te gebruik. Hy het teenoor haar erken dat sy verhouding met haar en sy verhouding met Marisia, van Klerksdorp, hemelsbreed verskil.

Dít was duidelik toe hy op sy alleenafspraak met Marisia gesê het hy is onseker oor haar gevoelens en haar wéér op ’n piekniek in die bos gevra het of sy hulle ná die program saam kan sien.

Marisia het gesê sy het gevoelens vir hom, maar sy is bekommerd dat hy ’n “projek” vir ’n meisie soek en haar moontlik gaan wil verander. Sy sê die vroue in die huis bespiegel al lank hieroor.

“Ek wil net weet, aanvaar jy my soos ek is, of wil jy my verander?” het sy hom gevra.

“Ek was nog altyd iemand wat dinge wil regmaak,” het Marc geantwoord. “Dit beteken nie ek wil iemand anders regmaak nie, maar ek wil iets regmaak wat hulle ongelukkig maak en ek wil hulle help. Daar is geen manier dat ek willens en wetens iemand sal wil verander nie. Dit sal beteken die verhouding sal nie werk nie.”

Marc het dit in verlede week se episode bewys toe hy Jess R huis toe gestuur het omdat sy ’n probleem gehad het met onder meer sy velsorgroetine en sy kleredrag en gesê het sy gaan dit verander. Hy het gesê hy sien nie hoe dié verhouding gaan werk nie.

Marisia het gesê iets wat haar bekommer het, is dat Marc gesê het hy was in die verlede nie gewillig om sy hart oop te maak nie uit vrees dat hy gaan seerkry.

“Marc het erken hy was nie reg om oop te maak nie,” het Marisia gesê.

“Ek het ’n knop op my maag gekry. Dit is dan wat 22 vroue op die program kom doen het. Ek was kwaad, want ek gee nog die heeltyd so baie van myself. Vrae het opgekom soos ‘hoekom is hy hier?’ en ‘wat is sy bedoeling deur vir The Bachelor in te skryf?’ ”

Sy het later, terwyl hulle in ’n borrelbad gesit het, gesê sy was bekommerd dat hy nie daar is vir die regte redes nie of dat hy hoegenaamd nie daar wil wees nie.

Bridget en Marc op hul afspraak in verlede week se episode.Foto: M-Net

“Ek wil hier wees, reg langs jou,” het Marc geantwoord.

Marisia het egter steeds onseker voorgekom en oogkontak vermy. Later het hulle opgemaak en effens ongemaklik in die borrelbad gesoen.

Hul aandeteafspraak was vol stywe oomblikke en Marc wat ontken dat hy sy meisie sal wil verander.

“Ek hou baie van jou, en veral ná vandag is ek bang dat jy dink ek hou nie van jou nie, om watter rede ook al,” het Marc haar gerusgestel.

“Ek het nie verwag om so erg oor iemand te wees nie.”

Nogtans het Marc die geleentheid van die hand gewys om alleentyd in ’n suite saam met Marisia deur te bring.

Sy was teleurgesteld dat hy daarteen besluit het omdat hy sou skuldig voel teenoor Bridget.

“Dit het my baie onseker laat voel,” het Marisia gesê. “Maar ek verstaan en respekteer sy besluit.”

Agter die kameras het sy gesê: “Ons afspraak het so sleg gegaan, ek weet nie of ek eens ’n kans het met hom nie. Ek wou nog tyd saam deurbring om uit te pluis wat de hel aangaan.”

Die vroue ontmoet sy ouers

Nadat Jess die program huilend verlaat het, het albei die vroue Marc se ouers, Marcel en Jenny, ontmoet.

Veral Bridget en Jenny het heerlik gesels.

“Ek kan net sien hoe ek en Jenny sit en wyn drink en ure praat of saam gaan inkopies doen,” het Bridget gesê.

Marcel het gesê sy seun het ’n vrou nodig wat hom sal uitdaag en hy sien dié eienskappe in Bridget.

Jenny het gesê sy is bekommerd oor die ouderdomsverskil tussen Marc en Marisia, maar Marcel en Marisia het goed oor die weg gekom en lekker gesels.

In volgende week se episode sal Marc sy keuse maak. Die program word Donderdae om 19:00 op M-Net kanaal 101 uitgesaai.

Meer oor:  Marc Buckner
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.