Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
‘The Bachelor’-ster skryf oor ‘manipulasie en leuens’

Die waarheid oor wat werklik agter die skerms in die eerste seisoen van The Bachelor SA en selfs daarna aangegaan het, sal binnekort in ’n boek deur een van die deelnemers aan die groot klok gehang word.

Lee Thompson, voormalige rugbyspeler, model en die eerste ster van The Bachelor SA, skryf tans ’n boek en gaan glo sy ervarings op die program en alles oor die “misleiding, manipulasie en leuens” uitblaker.

Gevra wat die lesers kan verwag, het Lee geantwoord: “Hulle kan die waarheid verwag. ’n Vertelling van my kinderjare, vorige verhoudings, my gesinslewe tot my skooldae, my sport-, model- en sakebedrywighede.

“Maar die boek fokus ook baie op The Bachelor SA – die goeie tye asook die misleiding, manipulasie en leuens. Dit sal ook die geestesgesondheidskwessies wat dit veroorsaak het, openbaar en hoe ek dit oorkom het.

Lee Thompson, voormalige rugbyspeler en model. Foto: Instagram/Lee Thompson

“Ek sal ook oor sommige van die vroue in die boek praat en baie van die vals gerugte weerlê. Ek sal ook dinge deel wat ek ná die program gedoen het en wat gebeur het.

“Ek sal praat oor die “speletjies” wat Gina (Myers) en Jozaan (Digue) ná die tyd met my gespeel het.”

Gina en Jozaan was die twee vroue wat laaste in die program oorgebly het. Lee het Gina gekies, maar die verhouding was op die rotse en hulle was reeds uitmekaar voordat die finale episode nog uitgesaai is.

“My boek sal ’n groot las afhaal van my skouers wat ek al ’n geruime tyd met my saamdra,” sê hy.

Dit is nog nie bekend wanneer die boek, The Truth behind the Rose, te koop sal wees of wie die uitgewer is nie.

Lee het ook op die aanlyn radiostasie Cliff Central met die aanbieder, Gareth Cliff, oor die boek gepraat. Toe hy gevra is of hy meen dat die vroue in die program “van ’n swak gehalte was”, het Lee geantwoord: “Baie van hulle, ja.”

Hy het egter aan Netwerk24 gesê hy is nie spyt daaroor dat hy aan die program deelgeneem het nie.

“Ek het daar ingegaan met die hoofdoel om ’n pasmaat te kry om die res van my lewe mee deur te bring, maar dit het ongelukkig nie gebeur nie.

“Nadat ek die program gekyk het en baie meer oor die vroue geleer het en oor wat agter die skerms aangegaan het, sou ek ander keuses gemaak het. Hoewel daar soms tye was wanneer die produksiespan my gemanipuleer het om sekere vroue in te hou wat ek uit wou hê.”

M-Net sê in reaksie op Lee se bewerings: “Alle realiteitsprogramme is daarop gemik om die gehalte van die produksie te bestuur, nie om die uitslag te manipuleer nie.

“Professionele hulp word aangebied aan alle deelnemers wat aan ons realiteitsprogramme deelneem. Dit word tydens die produksie gedoen en ook aangebied nadat die program voltooi is.

Thompson en sy meisie, wat nog nie in die media geïdentifiseer is nie. Foto: Instagram/Lee Thompson

“Ons het dit geniet om saam met Lee te werk, en ons wens hom sterkte toe met al sy toekomsplanne.”

Lee sê: “Ek skryf die boek omdat ek my volle lewensverhaal met die wêreld wil deel en dit in een boek kan saamvat. Ek dink baie mense wil meer van my en die program weet, en ek wil baie besonderhede met die wêreld deel. Ek wil hê my boek moet ander inspireer.

“Die program het my versigtiger gemaak vir vroue en wat hul ware bedoelings is. Dit het my ook laat besef hoe belangrik liefde vir my is, en nou dat ek dit by die regte persoon gevind het, verstaan en waardeer ek dit soveel meer!”

Lee, wat van Pretoria is, het in Julie op Instagram aangekondig dat hy weer iemand in sy lewe het, maar dat sy nog nie haar naam bekend wil maak nie.

Hy het wel gesê sy is Afrikaanssprekend, kom van ’n klein dorpie en werk as ’n dokter wat spesialiseer in oogheelkunde. Sy het ook tydens die piek van die Covid-19-pandemie gehelp.

“Sy is mooi van binne en buite, ons het dieselfde humorsin en sy het my gemotiveer om ’n beter man te wees.”

Meer oor:  The Bachelor  |  Lee Thompson
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.