Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
‘The Bachelorette’: Qiniso ontmoet dié 3 se gesinne

Ras, geloof, lobola en die moontlikheid van ’n gesin eendag was van die belangrikste onderwerpe wat Qiniso opgehaal het in gesprekke met die topvier in The Bachelorette SA op M-Net.

In Donderdagaand se episode het dit duidelik geword dat sy en Vuyani (28) van Johannesburg nie heeltemal dieselfde toekomsvisie het ten opsigte van kinders grootmaak nie.

Sy het hom huis toe gestuur.

Qiniso van Damme en haar topdrie. Hulle is van links: Gareth Ehret, Justin Lakey en Henk (Swazi) Nel.

Qiniso het dit aan al die mans baie duidelik gemaak dat sy ’n Christen is en dat haar geloof vir haar belangrik is. Toe sy dit met Vuyani bespreek op ’n afspraak waar hulle kwadfietse gery het, het hy gesê hy is agnosties.

Agnostisisme is die siening dat die bestaan van God, van die goddelike of die bonatuurlike, onbekend of onkenbaar is. Nog ’n definisie daarvan is die siening dat mense nie in staat is om voldoende rasionele gronde te verskaf dat God bestaan of dat God nie bestaan nie.

“Ek is beslis ’n gelowige persoon,” het Qiniso gesê. “Ek is mal oor my verhouding met God, die heelal en die natuur. Ek het regtig ’n maat nodig wat die lewe op dieselfde manier sien.”

Toe sy Vuyani vra of hy sy kinders in ’n gelowige huis sal wil grootmaak, het hy nie eintlik ’n antwoord gehad nie.

Henk Nel en Qiniso van Damme op die Vaalrivier op hul afspraak.
Vuyani Masego verduidelik sy geloofsoortuiging aan Qiniso van Damme.

Dit was ’n heeltemal ander saak toe Qiniso dié onderwerp met Justin Lakey (26) van Johannesburg bespreek op ’n helikopter-rit. “Ek bid elke aand vir ’n tuiste en gesin,” het hy vir haar gesê. Sy wou weet of hy gereed is daarvoor en hy het ja geantwoord.

“Ek kan myself nogal sien as Qiniso van Damme-Lakey,” het Qiniso gesê.

Hy het ook vir haar gesê hy is bereid om met haar ooms te onderhandel wanneer dit kom by lobola-ooreenkomste.

Henk (Swazi) Nel (28) van eMalahleni (Witbank), Mpumalanga het vir die eerste keer in Donderdagaand se episode erken dat hy besig is om op Qiniso verlief te raak. Dit nadat sy dit uit hom moes trek omdat hy baie huiwerig was om openhartig te praat.

Dié twee het op die Vaalrivier gaan roei en daarna ’n romantiese tyd in ’n borrelbad gehad. Die stoom het omtrent getrek uit die borrelbad soos hy haar gesoen en styf vasgedruk het.

Justin Lakey soen Qiniso van Damme passievol nadat hulle op ’n helikopterrit was.

Qiniso en Gareth Ehret (27) van Kaapstad het op ’n bootrit op die Vaalrivier geniet waar hulle gesels het oor Gareth se gevoelens. Hy het weer herhaal dat hy vir die eerste keer in drie jaar iets vir ’n vrou voel.

Op elkeen van die afsprake het die paartjies die geleentheid gehad om tyd alleen in ’n private suite deur te bring, weg van kameras.

Al die mans was gewillig, maar Qiniso het net saam met Gareth en Justin na die romantiese kamer gegaan. Henk en Vuyani moes tevrede wees met haar verduideliking dat sy nie oorhaastig wil wees nie.

Vuyani het ook die fout gemaak om aan te neem sy nooi hom na die kamer eerder as om haar te vra hoe sy daaroor voel en of sy wil. Qiniso het dit nie goed hanteer nie en toe dit tyd word om rose uit te deel het hy nie een gekry nie. Hy het haar net die beste toegewens en sy vir hom, waarna hy die ander mans gegroet het.

Gareth Ehret en Qiniso van Damme op hul bootrit op die Vaalrivier.

Kykers sal langer moet wag om te sien hoe Qiniso die topdrie se gesinne ontmoet, want volgende word die “men tell all” episode uitgesaai.

In dié episode kry al die mans wat reeds uitgestem is, ’n kans om hul sê te sê. Dié episode word gewoonlik eers aan die einde van die reeks uitgesaai, maar weens Covid-19-regulasies is dit geskuif.

The Bachelorette word Donderdae om 19:30 op M-Net (DStv-kanaal 101) uitgesaai.

Meer oor:  The Bachelorette Sa  |  Qiniso  |  Justin Lakey
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.