Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
‘The Bachelorette’: Qiniso weier soene, stuur 1ste man weg

Twee mans het in Donderdagaand se episode van The Bachelorette op M-Net probeer om soene te plant op die ster, Qiniso van Damme, maar sy het hulle gekeer.

“Ek gaan nee sê, net vir een rede,” het Qiniso aan Cameron, een van die mans wat sy vir die eerste keer in dié episode ontmoet het, gesê. “Die oomblik was beslis daar, maar ek wil dit eers ’n bietjie uitstel.”

Ook Bradley, wie se ontmoeting met Qiniso in verlede week se episode nie goed afgeloop het nie, het probeer om haar te soen.

“Ek het niks gevoel in die oomblik nie, maar duidelik het hy iets gevoel want sy lippe was sommer reeds op ’n tuit,” het Qiniso ná die tyd gesê.

Vir Bradley het sy gesê: “Ek gaan nie toelaat dat enige soene in my rigting kom vanaand nie. Ek blok jou nie heeltemal nie, ek wil net ’n bietjie langer wag.”

Qiniso gesels met Bradley wat haar in Donderdagaand se episode probeer soen het. Foto: M-Net

Buiten Cameron het Qiniso ook nog drie mans ontmoet – Craig, Gareth en Gregory. Sy was onmiddellik aangetrokke tot Gregory, ’n kroegman en lid van ’n band. Sy sê sy wens God het vir Craig, met ’n groot afro-haarstyl, ’n klein bietjie ekstra lengte gegee, want hy is byna ’n kop korter as sy.

Hy het die ander mans in die huis verkeerd opgevryf deur verskeie kere ander se gesprekke met Qiniso te onderbreek, en veral Vuyani was baie ongelukkig oor Craig se manier van doen.

Qiniso het dit laat blyk dat Ruan, ’n Afrikaanse man van Bloemfontein, haar vroeë gunsteling is toe sy vir hom die “eerste indrukke”-roos gegee het.

“Dankie dat jy my gewys het wie jy is en dat jy regtig probeer het om ’n aansluiting met my te vind,” het sy vir hom gesê.

“Ek het die roos vir Ruan gegee, nie die ‘King of the North’ nie.”

Dit is ’n verwysing na die manier hoe hy homself aan haar voorgestel het – in ’n kostuum van die karakter Jon Snow in die TV-reeks Game of Thrones. Ruan trek na die akteur Kit Harington wat Jon Snow vertolk.

Die ander mans het Ruan luidkeels toegejuig toe hy die roos by Qiniso ontvang.

“Vir baie lank het ek probeer voorgee wie ek is,” sê hy in Afrikaans. “Nou het ek besluit ek gaan net myself wees en ek kry dié roos, want jy is jy.”

Qiniso ontmoet Ruan van Bloemfontein vir die eerste keer. Hy is haar vroeë gunsteling. Foto: M-Net

By die volgende skemerkelkie het Qiniso gekies wie van die mans sy beter wil leer ken en wie sy huis toe wil stuur. Sy het vir almal rose uitgedeel, behalwe Ten Naidu van Durban.

Qiniso en Ten Naidu ontmoet vir die eerste keer op die rooi tapyt. Foto: M-Net

Die ander mans het gespekuleer dat Ten nie genoeg gedoen het om Qiniso se aandag te trek nie en dat hy rustig agteroor gesit het in plaas daarvan om harder te werk.“Hy was net heeltemal te teruggetrokke van Qiniso en die ander mans,” sê Vuyani.

The Bachelorette word Donderdae om 19:30 op M-Net (DStv-kanaal 101) uitgesaai.

Meer oor:  M-Net  |  Vermaak  |  Realiteitsreeks  |  Televisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.