Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
‘The Gong Show’ van 70’s terug op kassie
André-Pierre du Plessis

Amateur talent-televisieprogramme het almal dieselfde resep: mense wat toertjies as talent probeer verkoop aan ’n string bekendes wat besluit of jy moet bly of gly. Maar in die 1970’s was dit nie altyd so vervelig nie.

The Gong Show was in 1976 ’n ongewone talentkompetisie op die kassie, veral as ’n mens dit sou vergelyk met ander speletjiesprogramme van daardie tyd op Amerikaanse televisie. Individue wat vreemde toertjies doen, is genooi om vir pryse mee te ding. As een lid van die paneel van beoordelaars nie van die vaardighede op die verhoog gehou het nie, kon hy of sy ’n stok optel en ’n reusemetaalplaat slaan, die soort wat ’n verskriklike gong-klank maak.

Hoewel die program net ’n paar jaar op televisie was, kan ’n mens argumenteer dat dit dieselfde impak op Amerikaanse kykers gehad het as iets soos Legkaart Bonanza op Suid-Afrikaners kykers. Te danke aan die nostalgie is The Gong Show nou terug op televisie. Hoewel smaak en musiek verander het sedert dit laas op televisie was, is daar elemente van die program wat steeds die oorspronklike gees daarvan probeer namaak.

As ’n mens op die vergelyking tussen The Gong Show en Legkaart Bonanza voortbou, kan ’n mens amper sê hierdie nuwe program is dit wat sou gebeur het as kykNET die oorspronklike wiel in Legkaart Bonanza gevind het en Casper de Vries kon oortuig om met behulp van prostese net soos die aanbieder Les Franken te lyk. Want naas die stel en musiek van die oorspronklike The Gong Show is daar ’n aanbieder wat amper net soos die een in die 1970’s se weergawe lyk.

Sy naam is Tommy Maitland en elke week gee hy tweeduisend dollar en agttien sent weg aan die persoon met die beste toertjie op sy verhoog. Hy mag dalk lyk en klink soos ’n onbekende Britse emcee, maar in die regte lewe is dit die Kanadese akteur Mike Myers wat agter prostese wegkruip.

Net soos sy karakters in die Austin Powers-flieks is Myers se vertolking van Maitland as sy alter ego geweldig oortuigend. In die eerste jaar dat The Gong Show in Amerika uitgesaai is, het Myers geweier om te erken dat dit hy is wat agter die masker wegkruip.

Die res van die program se formaat is presies soos die oorspronklike. Daar is drie beoordelaars wat toegang het tot ’n reuse-gong wat met een hou ’n einde kan bring aan ’n verskeidenheid van truuks en toertjies op Tommy Maitland se verhoog. Die beoordelaars is meestal Amerikaanse vermaaklikheidsterre wat elke nou en dan deur die akteur (en uitvoerende vervaardiger van dié program), Will Arnett, vergesel word.

Deelnemers wat nie met die gong huis toe gestuur word nie, kry ’n punt uit tien van elkeen van die beoordelaars. Teen die einde van die program is daar gewoonlik ’n string amateur-talentvolles wat die kans staan om Maitland se tjek van tweeduisend dollar en agtien sent te wen. Die finale stem behoort aan die gehoor wat kans kry om vir elke finalis hande te klap. En die finalis wat die meeste geraas kry, wen.

Dis eenvoudige vermaak wat The Gong Show (Sondae om 17:00 op M-Net) die moeite werd maak om te kyk.

Meer oor:  Televisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.