Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
‘Trackers’ ook rede vir SA’ners om trots te wees

Suid-Afrikaners kan gerus trots wees op 'Trackers' en moeite doen om dit te volg. Dit is iets om op trots te wees, meen André-Pierre du Plessis.

Deon Meyer se boek Spoor is met groot fanfare uiteindelik in ’n televisiereeks omskep, bykans ’n dekade nadat hy die boek geskryf het. Selfs al het jy nog nooit ’n enkele Meyer-boek gelees nie, ken jy waarskynlik ’n aanhanger wat gespanne wag elke keer as daar ’n nuwe boek aangekondig word.

Met die televisiereeks Trackers behoort ou en nuwe aanhangers ewe gespanne te wees ná elk van die aksiebelaaide ses episodes.

Die reeks het verlede week op M-Net begin en hou iets in vir elke Suid-Afrikaner. Die rolverdeling verteenwoordig van die beste akteurs in ons land. Vervaardig deur M-Net en die Duitse televisiekanaal ZDF spreek dié ko-produksie tot Meyer se internasionale sukses. As jy al ooit in ’n boekwinkel in Duitsland ingestap het, sou jy sekerlik al die string Meyer-titels in Duits gesien het wat geweldig populêr is. Dit maak daarom sin dat ’n Duitse openbare uitsaaier wou help om die stories op papier wat goed verkoop, op die kassie te kry.

In ’n onlangse radio-onderhoud bieg Meyer dat diegene wat Spoor gelees het, moontlik teleurgesteld sal wees met die televisieprogram omdat dit moontlik anders sal lyk as die prentjies wat lesers in hulle koppe geskep het. Tog sal dié wat bekend is met Spoor hul pad makliker vind deur Trackers. Dis ’n storie wat van jou verwag om soos ’n spoorsnyer leidrade raak te sien in drie afsonderlike stories wat uiteindelik in mekaar verweef raak. Die storielyne spring ’n bietjie rond in die eerste episode wat baie werk van die kyker verwag.

Tog sal dié wat bekend is met Spoor hul pad makliker vind deur Trackers. Dis ’n storie wat van jou verwag om soos ’n spoorsnyer leidrade raak te sien in drie afsonderlike stories wat uiteindelik in mekaar verweef raak.

Een storie handel oor Milla Strachan (vertolk deur Rolanda Marais) wat werk vind by die fiktiewe Presidensiële Intelligensie-agentskap. Dié is ’n spesiale polisiediens op die spoor van diamantdiewe en slinkse kêrels. Die ander storie is oor Lemmer (James Gracie) wat ’n renosterpaar oor die Zimbabwiese grens moet kry tot in Loxton. Die derde storie speel af in die Bo-Kaap waar Trackers hard probeer om na iets soos die Amerikaanse program CSI te lyk, maar veel meer herinner aan Konings of Torings.

Wat ek daarmee bedoel is dat M-Net hard probeer om Trackers te bemark as ’n televisieprogram wat net so goed is as die aksie-belaaide Amerikaanse reekse waarvan hulle hopeloos te veel invoer. Dít is Trackers nie. Dis maar net nóg ’n plaaslike reeks wat met die hulp van buitelandse vervaardigers effens beter is as al die ander oorspronklike M-Net-produksies. Maar dit hou nie juis kers vas met die tipe programme wat ZDF vervaardig vir internasionale gehore nie. ZDF se suksesvolle Ku’damm 56 wat op Netflix beskikbaar is, bly byvoorbeeld ’n storie met meer diepte en wat veel makliker is om te volg.

Tog is Trackers iets waarop ons kan en moet trots wees. Dis ’n eg-Afrikaanse storie met ons bestes voor en agter die skerm, wat boonop ’n visuele fees is. Trackers probeer om in bykans elke toneel vir jou te wys presies hoe mooi die Kaap is. Daar is boonop tonele wat veel meer Kaaps voel as enigiets anders tans op televisie. ’n Gunsteling toneel byvoorbeeld is ’n tannie wat buite my gunsteling Gatsby-winkel in Walmer Estate haar nefie bydam: “Wat het djy aangevang?” en dan slaat sy hom agter die ore.

Of jy nou ’n Deon Meyer-aanhanger is of nie, dit behoort nie die bepalende faktor te wees vir die hoeveelheid genot wat jy sal vind in Trackers nie. Dit sal eerder afhang van jou konsentrasievlakke omdat elke episode so lank is soos ’n fliek.

Meer oor:  Trackers  |  Tv  |  Deon Meyer  |  M-Net  |  Zdf  |  Vermaak  |  Andre-Pierre Du Plessis  |  Showmax
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.